Mense koop dikwels nievoorskrif-dieetpille om van die ekstra vetjies ontslae te raak, hoewel hulle geen waarborg het dat dit veilig is nie. Die Medisynebeheerraad het pas die verkope van Simply Slim verbied nadat bevind is dat dit hoë dosisse sibutramien bevat, ’n skedule 5-stimulant en eetlusdemper wat net onder dokterstoesig gebruik mag word.

Daar was in die media tientalle klagtes van gebruikers oor hartkloppings, naarheid, kopseer en gemoedsversteurings – maar byna net soveel lofsange oor Simply Slim.

Mense wou selfs desperaat weet waar hulle nog voorraad kan kry voor dit verbied is. Dat dit ’n dobbelspel met jou lewe is om ’n middel te neem wat jou ’n hartaanval of beroerte kan gee, skeel hulle blykbaar min.

Hy is nie verbaas daaroor nie, sê Graham Alexander, ’n kliniese sielkundige in Kaapstad. Gewigsverlies is vir baie mense ’n obsessie en selfs al ervaar hulle newe-effekte van ’n verslankingsmiddel, glo hulle steeds dit sal hulle nie werklik skaad nie.

Daar is geen verslankingsmiddel wat ’n kitskuur vir vetsug bied nie, sê Graham. En Harris Steinman van Kaapstad, ’n mediese dokter en verbruikersaktivis, glo verbruikers word al so lank mislei.

‘‘Die MBR verwag van maatskappye om wetenskaplike navorsing te kan voorlê om die veiligheid en doeltreffendheid van aanvullende medisyne te bewys, maar dit word bitter selde werklik geëvalueer of gemonitor,’’ sê hy.

Meer hieroor in Huisgenoot van 25 Februarie.