JY kan jou gesond eet, hoor ons al lankal. Maar die regte kos saam met die regte aanvullings kan meer as dit regkry – dit kan jou werklik gelukkig laat voel. Dit kan trouens in baie gevalle depressie genees, sê dr. Patrick Holford, die wêreldbekende Britse voedingkundige.

Hy is self die toonbeeld van blakende gesondheid en lewensgeluk, kort nadat hy in Suid-Afrika aangeland het vir die bekendstelling van sy nuwe boek, The Feel Good Factor.

Daarby het hy duidelik sy huiswerk gedoen. Hy val dadelik weg met statistiek – soos dat daar op plekke waar mense min seekos eet, hoër syfers vir depressie, selfmoord en moord is – en haal die een na die ander wetenskaplike ondersoeke aan wat sy bewerings staaf.

Kos is beter medisyne as medisyne self, glo hierdie kenner. Dit beteken darem nie ons moet nou van sielkundiges en chemiese middels vergeet nie, voeg hy vinnig by. Dis net dat hy baie sterker glo die regte kos, saam met die regte aanvullings, kan jou werklik gelukkig maak en selfs depressie verlig of verdryf.

Maar kos en aanvullings alleen is nie genoeg nie. “Hoëintensiteit-oefening drie keer ’n week in die buitelug, maak depressie die helfte ligter en dit is doeltreffender as anti-depressante,” sê Patrick.

“En jy moet elke aand genoeg slaap. Die meeste mense het sewe ure nodig om nie depressief te raak nie." Hy voeg by jou vel moet ook genoeg sonlig kry.

“Dit help nie as die sonlig deur ’n venster kom nie, want dan gaan jou liggaam nie vitamien D vervaardig nie,” sê hy beslis.

Maar die belangrikste van alles is wat jy eet.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Februarie 2011

Bespreek vir Skouspel!