Saterdagoggend het ligte reënbuie oor die provinsie boorlinge van die moederstad en die omliggende areas se sambrele ‘n bietjie natgemaak, maar dit lyk nie of dié druppels noodwendig ‘n voorskou tot swaarder, meer deurdringende reënbuie was nie.

“Enigiets kan gebeur en die Kaap se reënseisoen is wel in die winter, maar vir die volgende sewe dae is daar net ligte reënbuie wat vir die derde en vierde Junie voorspel word,” meen Bransby Bulo, ‘n weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Dit lyk ook of die winter behoorlik in die noordelike dele van die land ingeskop het en in Johannesburg is 18 grade Celsius die warmste wat dit hierdie week sal word.

Bulo voorspel ook dat die temperature van môre af nóg verder sal val.