Toe Louisa Koekemoer, ma van die vermoorde Poppie van der Merwe, Maandag by die Brits-landdroshof instap, het Christo van der Merwe, Poppie se biologiese pa, luidkeels uit die galery uitgeroep: “Die wiel draai!”

Louisa (45) staan nou nes haar man, Kobus Koekemoer (ook 43), op ’n aanklag van moord tereg.

Eksklusief: In die hof vandag

Sy het effens verbouereerd en bang gelyk toe sy na die beskuldigdebank stap. Sy is Donderdag op ’n plaas naby Mamogaleskraal buite Brits aangekeer in verband met die dood van haar dogter.

Haar sieklike ma, Susan Bothma, het die hofverrigtinge kop onderstebo aangehoor.

[caption id="attachment_151325" align="aligncenter" width="600"]Susan Bothma, ma van Louisa Koekemoer. Foto: Jacobus Ludick. Susan Bothma, ma van Louisa Koekemoer. Foto: Jacobus Ludick.[/caption]

Poppie se biologiese pa, Christo van der Merwe, het ook die verrigtinge vandag bygewoon.

louisa-pa

Lees ook: Blondekop ‘engelkind’ Poppie se ma gearresteer

Die driejarige Poppie is Dinsdag 25 Oktober dood nadat sy na bewering erg geskop is.

Louisa en Kobus het saam met Poppie en haar boetie (5) op die plaas gewoon waar Louise in hegtenis geneem.

Kobus en Louisa het mekaar op Orania ontmoet en is in November 2015 getroud. Hulle is hier by maatskaplike werkers aangegee, maar het kort voor Poppie se dood Brits toe getrek.

Louisa het vroeër in ’n onderhoud haar weergawe van die gebeure vertel (As ek net geweet het dinge sou so ver gaan . . . , 17 November).

hgpoppie

Sy het toe aangevoer sy was nie teenwoordig toe Poppie na bewering aangerand is waar sy die middag op die sitkamermat gelê en slaap het nie.

Louisa het aangevoer Kobus was winkel toe omdat hulle die aand sou braai. Sy en Poppie se boetie is toe na buite om die kruideniersware in die bakkie te gaan haal.

Toe hulle weer in die huis kom, het sy besef daar is groot fout met haar kind, het sy vertel. Sy het beweer in die badkamer het hulle water in haar gesig gespat, maar Poppie het nie asemgehaal nie.

Die kleuter is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Hospitaalpersoneel het die polisie ontbied en Kobus is daar in hegtenis geneem.

Poppie-moord: ‘Jy gaan vrek,’ skree betoger in hof – kyk video

Kobus is op Maandag 28 November borgtog in die landdroshof op Brits geweier en verskyn weer op 25 Januarie 2017 in die hof.