Dit jaag Rusland bykans R3 miljoen per jaar uit die sak.

Toe Lenin op 21 Januarie 1924 glo aan beroerte en ’n hartaanval sterf, is afgewyk van die standaardpraktyk om afgestorwe leiers te begrawe. Teenstrydig met sy weduwee, Nadezjda Kroepskaja, se wense om hom langs sy oorlede ma te begrawe, het sake anders verloop. ?

Vir eers het Lenin byna twee maande in staatsie gelê sodat sy aanhangers wat in hul hordes opgedaag het, hul laaste eer aan die afgestorwe leier kon betoon.

Die koel Januarie-klimaat in Moskou het genadiglik daartoe bygedra dat sy lyk in ’n heel skaflike toestand behoue gebly het.

Lees ook: Huisgenoot 100: Versamelboek gedenk die afgelope eeu van SA se topverkoper-tydskrif

Eers wou hulle hom in ’n reusevrieskas bewaar, maar 56 dae ná sy dood het die destydse leiers die idee gekry om liewer sy lyk te balmsem as om dit te vries of te begrawe.

Geslag ná geslag Russiese wetenskaplikes is sedert 1924 voortdurend besig om die proses te verfyn en om die voorkoms, gewig en selfs soepelheid van Lenin se liggaam te verseker.

Die proses self is nie net om die behoud van die oorspronklike biologiese materiaal te bewaar nie; die wetenskaplikes het ’n “kwasibiologiese” wetenskap gevestig wat afwyk van konvensionele balsemprosedures.

Lees ook: Meer oor daardie piepklein sakkie aan jou jeans

Soms moet hulle dele van vlees en vel met plastiek en ander materiale vervang. En om te verhoed dat van die balsemvloeistof sigbaar is tydens geleenthede waar Lenin se liggaam ten toon gestel word, word daar eers vir hom ’n “rubberpak” onder ’n formele pak aangetrek.

Hierdie proses word jaarliks herhaal. Die mousoleum waarin Lenin hom bevind, is in hierdie stadium tydelik gesluit vir die Oorwinningsdagparade op die Rooi Plein wat op Maandag 9 Mei plaasvind. ?

Maar vanaf 18 Mei sal besoekers weer die goedversorgde Wladimir Lenin met sy netjies geknipte snor en bokbaard in ’n glaskas aantref.

Joeri Denisof-Nikolski, die Russiese dokter wat die oorlede leier se kurator geword het, beweer hy lyk selfs lewendiger en beter as sy oorspronklike self . . .

“Hy’t aaklig gelyk toe hy sterf,” het die dokter glo gesê.

Die uitdagings waarmee wetenskaplikes met die jare te doen gekry het, sluit onder meer in die verwydering van muf en plooie wat op sy liggaam verskyn het, tot die skep van kunsmatige vel om ’n voet wat in 1945 vermis geraak het, te vervang. Sy eie wimpers is ook sedertdien deur vals wimpers vervang.

Op dié foto van 1938 is die plooie om sy nek duidelik sigbaar.

Tot in die 1980’s het tot 200 navorsers die veroudering van velselle tot veloorplantings ondersoek. Met die val van die Sowjetunie moes navorsers egter op privaat skenkings steun tot waar die regering weldra weer die studies gefinansier het, maar teen ’n afgeskaalde finansiële bydrae.

Maar is die kool van al die mannekrag en Russiese roebels deur die dekades werklik die sous werd?

Inderdaad. Een van die tegnieke wat in die Lenin Lab die lig gesien het, het spesiale toerusting tot gevolg gehad wat nou ingespan word om bloedtoevoer te verseker wanneer geskenkte niere oorgeplant word.

Joeri Lopoechin en sy kollegas het ’n “drie-druppel-toets” ontwerp wat in 2002 deur die Kanadese maatskappy PreVu gepatenteer is. Dit word as “die wêreld se eerste en enigste “velcholesteroltoets” beskou.

Toe Josef Stalin op 5 Maart 1953 sterf, is sy lyk deur dieselfde Lenin Lab gebalsem. Hy sou agt jaar langs Wladimir Lenin in die Rooi Plein-mousoleum deurbring voor hy stil-stil weggeneem en onder die Kremlinmuur begrawe sou word.

Die Mousoleum-groep is verantwoordelik vir die behoud van nog drie nasionale leiers: Ho Tsji Min (Viëtnam) en die vader-seun-paar Kim Il-soeng en Kom Jong-il (Noord-Korea).

Terloops, meer as 150 jaar gelede is die toentertydse Amerikaanse president Lincoln se gebalsemde lyk deur sewe deelstate van Amerika geparadeer. Ten spyte daarvan dat ’n balmsemdeskundige die toer vergesel het, het die proses in gebreke gebly om die liggaam te bewaar.

Bronne: scientificamerican.com, smithsonianmag.com, themoscowtimes.com, jewishworldreview.com

Ook op Huisgenoot.com:

Steve Carell deel hartseer nuus op Moedersdag

Eerste reusepanda vir 2016 in aanhouding gebore en vermurwe harte wêreldwyd

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

Dié nege mense is vas oortuig hulle is deur ruimtewesens ontvoer

Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel