Brandbestryders het Dinsdag 19 brande op talle plekke in die Wes-Kaap probeer blus, onder meer een in die Paarl wat “buite beheer” is.

Daar was brande in die Kaapse Skiereiland, aan die Weskus en in die Kaapse Wynland, het die provinsiale departement van openbare werke Dinsdag gesê. “Die brand by die Paarl word aangeblaas deur sterk wind en talle eiendomme verkeer in gevaar,” lui die verklaring.
Die hoofgebou op die wynlandgoed Calais is Dinsdagoggend in puin gelê. Die brand het Sondag begin. Veldbrande het ook skade aan talle huise in Vredehoek in die Kaapse stadskom aangerig.
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die Suid-Afrikaanse Lugmag en die minister van verdediging vir hul hulp bedank.
Hul Oryx-helikopters is heelwat groter en kan meer water op die vlamme loslaat, vergeleke met die helikopters wat die stad gewoonlik gebruik, het Anton gesê.

Derick Damons, brandweerhoof van die Drakenstein-munisipaliteit, het aan News24 gesê militêre helikopters is eers teen Dinsdagoggend in die Paarl ontplooi nadat sterk winde dit Maandag verhoed het. Tweehonderd brandbestryders het in uiters moeilike toestande die brande probeer blus, het Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, gesê.
“Op die oomblik is die brand in die Paarl ’n prioriteit. Die uiters sterk winde maak dit baie moeilik om in te vlieg.”

Bron: News24