Die internasionale mediese agentskap Medecins sans Frontieres (MSF) het Dinsdag gesê die wêreld “verloor die stryd” om Ebola in bedwang te hou, terwyl die Verenigde Nasies gewaarsku het van ernstige voedseltekorte in die lande wat die ergste getref is.

MSF het op ’n inligtingsessie in New York gesê wêreldleiers faal daarin om die epidemie die hoof te bied en het ’n dringende wêreldwye biologiese rampreaksie versoek om hulp en personeel in Wes-Afrika te kry.

“Ná ses maande van die ergste Ebola-epidemie in die geskiedenis verloor die wêreld die stryd om dit in bedwang te bring. Leiers bly in gebreke om die transnasionale bedreiging aan te pak,” het Joanne Liu, die internasionale voorsitter van MSF, gesê. “Die (Wêreldgesondheidsorganisasie) se aankondiging op 8 Augustus dat die epidemie ’n ‘openbare gesondheidsnoodtoestand van wêreldwye belang’ is, het nie tot daadwerklike optrede gelei nie en lande het in werklikheid by ’n wêreldwye koalisie van traagheid aangesluit.” Haar kommentaar volg nadat ’n derde Amerikaanse gesondheidswerker vir die virus positief getoets het terwyl hy met pasiënte in Liberië gewerk het. Dit is die land wat die ergste getref is.
'My hart was baie seer, maar my geloof het nie gewankel nie.'

“My hart was baie seer, maar my geloof het nie gewankel nie, toe ek hoor nog een van ons sendingdokters het Ebola opgedoen,” sê Bruce Johnson, die voorsitter van die Christen-sendinggroep SIM, vir wie die onbekende Amerikaner werk.

Twee Amerikaanse gesondheidswerkers wat by dieselfde ELWA-hospitaal in die Liberiese hoofstad, Monrovië, gewerk het, is na hul land teruggevlieg en suksesvol vir die virus behandel. Anders as die ander twee het die jongste Amerikaanse slagoffer nie direk met Ebola-pasiënte gewerk nie; dit is nog onduidelik hoe hy die siekte opgedoen het wat gewoonlik dodelik is. Joanne het gevra die wêreldgemeenskap moet meer beddens befonds vir ’n streeksnetwerk van veldhospitale, opgeleide personeel stuur en mobiele laboratoriums oral in Guinee, Siërra Leone en Liberië ontplooi.

'Ons moet elke dag siek mense wegwys'

In ’n meegaande verklaring by die inligtingsessie het die MSF gesê die krisis is besonder ernstig in Monrovië, waar daar na raming “nog 800 beddens nodig is”.

“Ons moet elke dag siek mense wegwys, want ons is te vol,” het Stefan Liljegren, die MSF se koördineerder by die ELWA Three Ebola-eenheid in Monrovië, gesê.

Die MSF het gesê terwyl sy sorgsentrums in Liberië en Siërra Leone oorvol is, sterf mense steeds in hul gemeenskappe.

“In Sierra Leone verrot hoogs aansteeklike lyke in die strate,” lui hul verklaring.

Die Ebola-uitbreking het al 1 552 lewens geëis en 3 062 mense besmet, volgens die WGO se jongste syfers.

Die agentskap vrees dit kan teen die huidige infeksiekoerse ses tot nege maande en minstens R5,2 biljoen verg om die uitbreking onder beheer te bring en dat daar teen daardie tyd tot 20 000 mense geraak kan wees.

Die uitbreking van Ebola, wat deur kontak met besmette liggaamsvloeistowwe oorgedra word, veroorsaak paniek deur Wes-Afrika heen, maar ook verder daarvandaan met internasionale vlugte wat gestaak is.

Bron: Frankie Taggart/Sapa-AFP