Met ’n televisiegehoor van 2 biljoen is die troue van Kate Middleton en prins William die mees gekykte skouspel nog op aarde.

Maar dan praat ons nog nie van die miljoene mense wat vandag op ander maniere die troue bywoon nie . . .

Nog 400 miljoen mense volg na raming die troue op radio of die internet.

Vergeleke met ander internasionale gebeure is die jong koninklikes se troue ongetwyfeld die warmste kykstof nog.

Prins Charles en Diana se troue het ’n televisiegehoor van 750 miljoen gehad (’n skamele 1 biljoen toeskouers in totaal as ’n mens die radiogehoor bytel) en die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi se eindstryd het net 700 miljoen kykers gehad.

Met soveel verskillende platforms om van te kies – televisie, internet en Twitter – is dit voorwaar ’n moderne feëverhaal dié.

En troos jou daaraan: Selfs talle van die paartjie se 1 900 gaste gaan maar nes ons hier in Suid-Afrika en derduisende Londenaars tevrede moet wees om die verrigtinge op televisie te volg.

Nie al die sitplekke in die Westminster-abdy het behoorlike sig van die imposante altaar nie.