Hy is vyf maande oud en weet nog nie dat hy wêreldwyd opslae maak nie. En hy weet nie hy is die eerste baba wat gebore is danksy 'n tegniek waarin die DNS van drie ouers gekombineer word. Dit is danksy 'n opspraakwekkende en hoogs omstrede tegniek wat ouers met seldsame genetiese afwykings of mutasies in staat stel om gesonde babas te kry. Sy ma dra die gene vir Leigh-sindroom. Dit is 'n dodelike sindroom wat die ontwikkeling van die senustelsel affekteer.Die sindroom lei tot progressiewe verlies van fisieke en geestelike mobiliteit. Sy en haar man het reeds 20 jaar lank probeer om met 'n gesin te begin. Ná 10 jaar het sy ma die eerste van vier miskrame gehad.

In 2005 is 'n dogtertjie vir hulle gebore, maar sy sterf op sesjarige ouderdom. Nog 'n kind word gebore, maar dié het net agt maande geleef. Albei het weens die sindroom gesterf.

Die paartjie het die hulp van John Zhang en sy span by die New Hope Fertility Center in New York ingeroep.

Zhang het 'n metode ondersoek waardeur mitochondrion-siekte, 'n groep versteurings wat deur wanfunksionerende mitochondria veroorsaak word, vermy kon word. En die drie-ouer-tegniek was sy oplossing.

Die metode wat in Londen gebruik word, behels dat die ma en 'n skenker se eiers met die pa se sperm bevrug word. Voor die bevrugte eiers in vroeëfase-embrio's ontwikkel, word die kern verwyder. Die kern van die skenker se bevrugte eier word ook verwyder en vervang deur dié van die ma se bevrugte eier.

Die paartjie was egter gekant teen die vernietiging van twee embrio's. John het 'n nuwe benadering gevolg. Hy het die kern van een van die ma se eiers verwyder en dit in 'n skenkereier waarvan die kern reeds verwyder is, geplaas. Daarna is dit met haar man se sperm bevrug. Nie een van die twee metodes, dié van John of wat in Londen wettig is, is in Amerika goedgekeur nie. John het na Mexiko gegaan "omdat daar nie reëls (hieroor) is nie" en omdat dit die "etiese ding is om lewens te red". Uit die vyf embrio's wat deur die span "geskep" is, het net een normaal ontwikkel. Die embrio is in sy ma geplaas en nege maande later het die pragtige seuntjie sy opwagting gemaak, tot groot vreugde van sy ouers. Nog goeie nuus is dat sy mitochondria minder as 1 persent van die mutasie bevat.

"Dis rewolusionêr," het Dusko Ilic van King's College in Londen oor dié merkwaardige geboorte gesê.

Intussen mik Engeland daarna dat die eerste baba volgens hul tegniek binne die volgende jaar die lewenslig sal aanskou.

Bronne: ghr.nlm.nih.gov, newscientist.com, dailymail.co.uk