Die nuus dat die aktrise Angelina Jolie en haar akteurman Brad Pitt glo ná meer as tien jaar saam gaan skei, het Dinsdagmiddag soos ’n veldbrand versprei. En voor jy jou oë kon uitvee het mense op sosiale media klaar ’n aantal grappies en gifs gemaak en met mekaar begin deel. Veral Brad se eks-vrou Jennifer Aniston se kastige reaksie is op dié aankondiging is uitgebeeld:

Aanhangers van dié beeldskone paartjie was diep teleurgesteld.

Huisgenoot se eie Johannes de Villiers vertel van die keer toe hy Angelia Jolie ontmoet het:

Verskillende mense hou om verskillende redes van Angelina Jolie se voorkoms. Party kan lank staar na haar verleidelike oë. Ander koer oor haar swart lokke. Nog ander hou van haar slanke postuur.

Maar laat ek, as iemand wat al voor haar gestaan en met haar gesels het, jou nou vertel: As jy vir Angelina van aangesig tot aangesig ontmoet, dan sien jy net lippe.

Dis die jaar 2000. ’n Triestige winter in Londen. Ek is ’n jong Suid-Afrikanertjie wat in die Britse hoofstad werk – ek slaan dag ná dag die kasregister in ’n boekwinkel. Ons is in die middestad en van tyd tot tyd kom ’n effens beroemde Brit daar iets koop. Jeremy Irons. Een van Madonna se ekskêrels. Sulke tipe mense.

Maar dié dag is daar meteens ’n beroering onder die personeel. Almal laat staan hul werk en stroom na die fiksie-afdeling. Wat gaan aan? vra ek een van my kollegas in die verbygang.

“Angelina Jolie!” skree hy oor sy skouer en verdwyn in haar rigting.

Ag gmf. Sy het nou wel pas ’n Oscar gewen (vir Girl Interrupted), maar ek konsentreer eerder op my werk. Onthou dit was voor Brad Pitt, haar welsynswerk en die enorme kroos. Hoewel sy redelik bekend was, was sy nog nie naastenby so superberoemd as wat sy sou word nie.

Ek staan nog so verantwoordelik en doen my werk toe ek skielik die groot beroering in my rigting hoor beweeg. O hel – ek is die enigste werkende winkelassistent en die spul kom reguit op my afgepyl.

En wie loop reg vooraan? Die aardigste klein mensietjie. Sy is so kort soos my skouers. Haar armpies is so benerig en maer soos daai Gollum-gediertetjie in Lord of the Rings. Haar lippe is enorm.

Dit klink na die bestanddele vir ’n monster. Maar glo dit of jy wil of nie, die eindproduk is asemrowend. Angelina is in die regte wêreld selfs mooier as op die silwerdoek.

“You got any Native American tarot cards?” rol dit in haar dik Amerikaanse aksent oor haar volronde lippe. Dit vat ’n oomblik voordat ek besef sy praat met my.

Ek is so beïndruk, ek begin sommer my klinkers soos ’n cowboy te rek. “Yeeah, Ma'am,” sê ek. “We’ve got a whole selection.”

Tarot-kaarte, vir dié wat dit nie weet nie, is sulke kaartjies wat jy gebruik om die toekoms te voorspel. Ons het Wicca-kaarte, elfie-kaarte, Middeleeuse kaarte en, ja, Native American-kaarte gehad. Ek pak hulle voor Angelina op die toonbank uit. Sy kyk rustig deur hulle. Sy vra niks meer nie.

Of sy enigiets gekoop het, kan ek nie nou onthou nie. Ek was te besig om na haar lippe te kyk.

Nou ja, ek lees Angie en Brad Pitt is pas uitmekaar. Daar is sprake van ’n ander vrou in Brad se lewe, glo daai Franse aktrise Marion Cotillard. Die hele situasie het Angelina glo onkant gevang.

As sy wel destyds fortuinvertelkaarte gekoop het, lyk dit my hulle het nie te goed gewerk nie.

Jammer Angelina. Bel my, dan reël ek vir jou ’n refund.