Britse doemprofete voorspel in ’n nuwe video wat wyd aanlyn gedeel is, dat die aarde op 29 Julie sy moses gaan teëkom.

Die groep End Times Prophecies voorspel in die video dat die magnetiese pole die einde van die maand gaan omswaai en dat Jesus daarna gaan verskyn.

Hulle regverdig dié buitensporige voorspelling deur verskeie Bybelverse aan te haal wat hulle glo die voorspelling staaf.

Die End Times-groep se aanlyn nuuskanaal, Armageddon News, word deur ’n dramatiese rekenaargeskepte stem aangebied. Hul eerste video bevat die voorspelling dat die wêreld oor twee weke tot ’n einde gaan kom.

Die video bevat ook ’n rits grafiese beelde wat wys hoe die wêreld gaan eindig. Geboue stort ineen en hulle wys hoe verskrikte stommerike onder rotse skuil.

En dan, die triomfantelike oomblik waarop almal gewag het: die Verlosser self verskyn op ’n wit perd.

Hierdie video is beslis nie die eerste keer dat doemprofete die einde van die wêreld voorspel nie. In 2014 is voorspel die Derde Wêreldoorlog gaan die aarde verwoes en die aarde moes ook verlede jaar vergaan het ná die Maya-kalender tot ’n einde gekom het.

Tot dusver het geen van hierdie voorspellings waar geword nie.