Die week se groot fliek is The Hangover Part III (16TN). Die groep vriende, bekend as die Wolfpack – Phil (Bradley Cooper), Stu (Ed Helms), Doug (Justin Bartha) en Alan (Zach Galifianakis) – ontmoet weer toe Alan se pa sterf en hy kop verloor toe hy ophou om sy medikasie te gebruik.

Die ander drie probeer hom rehabilitasiesentrum toe neem, maar op pad soontoe loop dinge skeef toe hulle aangeval en Doug ontvoer word. Om hom te red moet hulle die flambojante bendelid Mr Chow (Ken Jeong) opspoor.

Die kritici het die fliek gelooi en dit het slegs 20 persent op die resensie-webwerf Rotten Tomatoes gekry, waar dit deurgeloop het omdat dit “minder van ’n komedie as ’n woedende, donker en oormatig gewelddadige aksieriller” is wat “moeg en hardvogtig” voorkom.

Die eklektiese regisseur Steven Soderbergh, wie se wye verskeidenheid flieks Erin Brockovich, Ocean’s Eleven en Magic Mike insluit, het die sielkundige riller Side Effects (16GTN) se regie behartig. Rooney Mara van The Girl with the Dragoon Tattoo-faam en Channing Tatum speel ’n ryk New Yorkse paartjie, Emily en Martin, wat herenig nadat Martin uit die tronk vrygelaat word vir binnehandel.

Maar Emily verval in ’n diep depressie en toe dit lyk of niks help nie, skryf haar psigiater (Jude Law) ’n nuwe, eksperimentele medikasie voor met ernstige gevolge. Die fliek het kritici beïndruk en Rotten Tomatoes het dit 85 persent gegee omdat dit ’n “slim riller met talle verontrustende kinkels” is.

Texas Chainsaw (18 TG) is die sewende aflewering in die Texas Chainsaw Massacre-gruwelreeks. Die fliek steur hom min aan al die opvolgflieks en gaan aan waar die oorspronklike fliek van 1974 opgehou het.

Die bewoners van Newt het die kannibaalgesin se plaashuis afgebrand en hulle is vermoedelik dood, maar hulle kom af op ’n kind, Edith, en plaaslike inwoners neem haar aan. Edith (Alexandra Daddario) hoor eendag haar ouma is dood en het vir haar ’n plaas nagelaat en sy en vriende sit af na Newt waar hulle natuurlik hul rieme lelik styfloop.

Die fliek het swak resensies gekry. Die tydskrif Empire se gruwelkenner Kim Newman het dit net een sterretjie gegee en gesê dis ’n “lomp opvolg wat, nes sy gemaskerde protagonis, geen goeie eienskappe het nie”.

Clive Owen van King Arthur-faam speel die hoofrol in Shadow Dancer (16TG), ’n drama wat afspeel in 1993 tydens die onluste in Belfast, Noord-Ierland. Colette (Andrea Riseborough van Oblivion) word betrap toe sy ’n bom op Londen se moltreinnetwerk los en ’n MI5-agent (Clive Owen) dwing haar om op haar IRL-broers (Domhnall Gleeson – hy was Bill Weasley in die Harry Potter-flieks en Aidan Gillen – hy is Littlefinger in Game of Thrones) te spioeneer.

Kort voor lank span daar ’n dodelike net om haar. Die kritici het die fliek geloof. Die tydskrif Total Film het dit vier sterre gegee en dit geprys vir “boeiende spel en ’n spanningsvolle, waterdigte storielyn.”

Yeh Jawaani Hai Deewani (ouderdomsperk nog nie bekend) is ’n Bollywood-romanse wat vier vriende volg van hul universiteitsdae tot een van hulle trou. Movietarot.com se resensent het die fliek 85 persent gegee en gesê dis “een van daardie flieks wat jou werklik gelukkig kan laat voel”.