Daar is reeds sprake dat as waterverbruik in party gebiede nie skerp daal nie, daar teen middel Mei nie meer drinkwater sal wees nie en die watervoorraad teen einde Mei of begin Junie heeltemal uitgeput kan wees.

Terwyl die noorde van die land die laaste ruk heerlike reënval geniet het, bly die Wes-Kaap steeds in die knyp as die provinsie met die hoogste watergebruik ondanks die streng waterbeperkings wat munisipaliteite in werking gestel het. Daarbenewens het die watervlak van die belangrikste opgaardamme waaruit Kaapstad en omliggende gebiede water pomp, weer gedaal. Hulle is nou slegs 41,4% vol teenoor 43,3% laas week en 49,5% in die ooreenstemmende week in 2016. Daarteenoor lê damvlakke in Gauteng tans op 87,1%. KwaZulu-Natal is ook in die moeilikheid met damme wat 43,6% vol is. So ook Swaziland (27,3%) en Lesotho (43,4%), volgens ’n verklaring uitgereik deur departement van water en sanitasie.

Xanthea Limberg, die Kaapstad-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, nutsdienste en energie, sê dié statistieke is kommerwekkend. Die Kaapse stadsraad se teiken is ’n maksimum van 800 miljoen liter per dag wat gebruik mag word om te verseker dat die watervoorraad tot die wintereëns hou.

“Verlede week is 859 miljoen liter per dag verbruik. Dit is 90 miljoen liter per dag meer as waarvoor daar begroot is,” het sy aan Huisgenoot gesê.

“Ons sal net strenger maatreëls vir die gebruik van drinkwater en die natmaak van tuine moet instel, anders gaan ons binnekort met ’n groot probleem sit.” Sy sê as die huidige verbruik voortgaan, sal damvlakke teen die begin van die winter op sowat 20% staan. Geen reën word vir die komende week voorspel nie.

Sunday Times berig ook die stad het net genoeg water vir die volgende 100 dae. Maar Sputnik Ratua, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê dit is nie akkuraat nie. “Watervlakke is ongelukkig gans te onvoorspelbaar om sulke voorspellings betroubaar te kan maak.” Hy sê ook as jy sou sien jou buurman hou nie by die beperkings nie, bly jou plaaslike munisipaliteit die beste plek om dit aan te meld, aangesien munisipaliteite die beperkings moet afdwing.

In so ’n geval, skakel gerus die departement van water en sanitasie se kliëntediensnommer, 0800-200-200, om ’n klag te lê of vra om deurgesit te word na die munisipaliteit ter sprake.

Skakel 0860-103-089 vir die Kaapstad-munisipaliteit.

- Joanie Bergh en Gys Visser