Dana Giacchetto, die kleurryke en insgelyks berugte aandelemakelaar wat die inspirasie was vir Leonardo diCaprio se verskyning in die lokettreffer The Wolf of Wall Street, is Sondag oorlede.

So het Leonardo diCaprio as die gladdebek-makelaar in die fliek gelyk.

Volgens wat berig word, is die 53-jarige Dana Sondagoggend in sy bed gevind. Daar was glo skuim om sy mond.

In ’n berig deur die Daily News word Dana as die “Makelaar van die Sterre” bestempel: “die man wat hoog geleef het en laag gesterf het."

Volgens bronne volg sy dood na ’n naweek van woeste partytjies. Vrydagaand het hy die premiere van “Legends of Freestyle” bygewoon en was glo later in ’n onderonsie met sekuriteitsbeamptes by ’n nagklub betrokke.

Hy was na wat berig word so sterk onder die invloed dat die nagklub hom toegang geweier het. “Hy het op die sekuriteitsbeamptes gegil,” word vertel voor Dana sowat 01:00 uiteindelik bes gegee het en weggery het. In 2001 is hy vir meer as vier jaar tjoekie toe nadat hy miljoene van ander gesteel het om van sy bekende vriende se beleggingsportefeuljes aansienlik beter te laat lyk. Dit het die man, wat gereeld saam met Leonardo, Ben Affleck en Matt Damon afgeneem was in sy glorieryke dae, alles behalwe ’n les geleer.

In 2014 het hy weer met die gereg gebots. Dié keer omdat hy bedrog gepleeg het deur met iemand anders se kredietkaart alkohol, ’n vliegtuigkaartjie en kos gekoop het. Hy het sy tyd met die Hollywood-sterre as volg beskryf: “Dit is ’n baie seksuele gevoel, om te dink . . . vandag kan ek enigiets doen wat ek wil. Ek kan gaan waar ek wil en alles sal doodreg wees. Niemand gaan ‘nee’ sê nie.”
Sy vervreemde vriendin by wie hy twee kinders het, het glo bekommerd geraak toe sy hom sedert Saterdag nie in die hande kon kry nie. Sy het vriende om hulp gevra. Die polisie het bevestig dat Dana se kamermaat hom laat Sondagoggend gevind het. Hy is Sondag om 12:02 dood verklaar.

Bronne: foxnews.com, nydailynews.com, skynews.com