Die veldtog is gister (27 Junie) begin met ’n advertensie op ’n A-raam-sleepwa van ’n hondegeveg tussen twee Amerikaanse veghonde (pit bull-terriërs), waarby die gevegsaand in vet, rooi letters aangekondig word, met foto’s van die twee honde daarby.

Die sleepwa is by besige verkeerspunte in Johannesburg gelaat. Dit het binne ure ’n storm op sosiale media ontketen.

Toe Huisgenoot die selfoonnommer Maandag bel, het ’n boodskap aangedui daar is nie meer plek om boodskappe op te neem nie. Boodskappe wat by die DBV gelaat is, het onbeantwoord gebly.

Maar vir almal wat in die onsteltenis deel, die geveg het nie werklik plaasgevind nie. Dit was deel van ’n DBV-advertensieveldtog.

Michelle Falgate, ’n woordvoerder, sê hondegevegte neem kwaai toe. “Die gevegte vind in Johannesburg plaas – ook in Melville, Sandton en Fourways.

“Hondegevegte is ’n onderwerp waaroor mense woedend moet wees,” sê Wendy Wilson, senior inspekteur en bestuurder van die spesiale ondersoekeenheid van die NDBV.

“Benewens die verskriklike lyding van die diere wat betrokke is, het die misdryf ’n verwoestende uitwerking op die mense, kinders en gemeenskappe waar dit gebeur en gemeenskappe wat die bestaan daarvan verdra.”

Sy sê hondegevegte en verwante misdaad styg onrusbarend in Suid-Afrika en die NDBV benodig die publiek se steun meer as ooit. “Ons moet drastiese stappe doen om hierdie ontstellende misdryf vinnig en doeltreffend onder die publiek se aandag te bring.”

Wendy sê die stereotipiese persepsie dat hondegevegte in lae inkomste-gebiede plaasvind waar werkloosheid hoog en opvoedingsvlakke laag is, is presies wat die NDBV met die veldtog wil aanspreek.

“Hondegevegte gebeur ook in gegoede gebiede, tussen opgevoede, geleerde mense wat professionele posisies beklee en wat selfs bydra tot diereorganisasies in hul individuele kapasiteit.

“Die gevegte vind plaas onder ’n kombers van geheimhouding en oortreders doen uiterste stappe om seker te maak hulle word nie uitgevang nie, selfs deur organisasies wat voorgee hulle is teen hondegevegte gekant sodat hulle wenke kan ontvang.”

Volgens Wendy is die oortreders en ondersteuners van die misdryf individue vir wie die deelname aan ’n gewelddadige, georganiseerde bloedsport plesier verskaf. Hulle is gewoonlik by verskeie ander misdrywe en gewelddadige optredes betrokke.

Sy sê die veldtog het diereliefhebbers landwyd geraak. Dit het daartoe gelei dat mense wat omgee die advertensie gedeel, inligting aangemeld en ’n belangrike rol gespeel het om Suid-Afrikaners oral van hierdie bloedsport bewus te maak.

“Die reaksie was fenomenaal en die NDBV is innig dankbaar vir die bekommerde en sorgsame landsburgers wat die stilte verbreek en hondegevegte na vore gebring het,” het sy gesê.

So kan die publiek help deur geheime aktiwiteite wat hondegevegte betref, aan te meld: Stuur ’n e-pos na nspca@nspca.co.za, bel 011-907-3590 of besoek www.nspca.co.za.

Inbellers se identiteit sal beskerm word en jy kan anoniem bly as jy dit verkies. Skenkings sal die organisasie kan bystaan om aan te hou om hondegevegte te stop en die oortreders vas te trek.

Skenk só: SMS die woord “STOP” na 38018. Elke SMS kos R25.

Neem ’n projek aan deur vir ’n maandelikse skenking van so min as R50 te registreer.

Maak ’n elektroniese oorplasing aan die Nasionale Raad van die DBV, Standard Bank, takkode 006 405, rekeningnommer 201 032 015 en gebruik die verwysing STOP.

Die wenke sal jou help om hondegevegte te identifiseer:

  • Amerikaanse veghonde word aan groot kettings in klein ruimtes aangehou.
  • Eiendomme met verskeie ongesteriliseerde, ongesosialiseerde veghonde wat onvriendelik is met ander diere.
  • Amerikaanse veghonde waarby bewyse van herhaalde beserings is.
  • Honde met verskeie letsels of beserings aan hul lywe, veral op die gesig, pote, bors en ore.
  • Geboue wat as gevegskuipe ingerig is of vierkantige tydelike bakleigebiede met bloedvlekke teen die vloer en mure.
  • Die aanwesigheid van oefentoerusting soos loopbande, pale of breekstokke of veeartsenykundige voorraad en steroïde.
  • Gereelde verandering van honde by ’n sekere eiendom. Soos honde doodgebyt word, word nuwe diere gekoop of gesteel.