Hertogin Catherine se verloofring, wat voorheen aan prins William se ma, Diana, behoort het, is nou teen ’n allemintige R5,4 miljoen gewaardeer.

Die waarde van Brittanje se hertogin Catherine se verloofring het vertienvoudig.

Die 32-jarige koninklike se blou saffierring van 12 karaat, wat eens aan prinses Diana behoort het, is na raming nou R4,9 miljoen meer werd as toe Catherine in April 2011 in die Westminster-adby in Londen met William getroud is.

Prins Charles het die kosbare juweel in 1981 aan die prinses van Wallis gegee nadat hy dit vir R504 000 gekoop het, maar dit is nou na raming meer as R5,4 miljoen werd.

Die erfstuk – waarin ook 14 diamante in ’n sirkel om die saffier gerangskik is – is drie keer meer werd as die koningin se verloofring. Dié het die tweede plek behaal op ’n lys van die 20 bekendste verloofringe ter wêreld in volgorde van hoe baie hul waarde verhoog het.

Vashi Dominguez, die juwelierskenner van ITV se This Morning en samesteller van die lys, sê: “Die waarde van die hertogin van Cambridge se ring het vinniger vermeerder as dié van enige ander ring op die lys.

“Dis Kate se status as styl-ikoon wat die ring so spesiaal maak.”

Die naasduurste van die koninklikes se ringe behoort aan die hertogin van Cornwall, prins Charles se tweede vrou.

Die Art Deco-stuk, wat ten tye van hul troue in 2004 op R1,2 miljoen gewaardeer was, is na raming vandag R4,5 miljoen werk en beklee die negende plek op die lys.

Die waarde van koningin Elizabeth se diamant-solitaire-verloofring van drie karaat het van R180 000 tot R1,8 miljoen toegeneem sedert prins Philip in 1947 op die een knie afgesak het.