Die gesin van British Columbia was op pad huistoe ná ’n vakansie toe ma Angela al hoe moeër agter die stuurwiel geraak het. Sake het skeef geloop vir die gesin toe Angela ‘n boom tref.

Angela was bewusteloos ná die impak, haar rug is gebreek en sy het interne beserings opgedoen. Lexi het wakker geskrik van haar bababoetie se gehuil en instinktief geweet sy moet help.

Sy het eiehandig daarin geslaag om die vyfpunt-harnas van haar kindersitplek los te maak. Dié was as gevolg van die impak teen die sitplek voor haar vasgedruk. Lexi kon gelukkig die passassiersdeur oopmaak en sy het kaalvoet teen die steil wal en rowwe terrein uitgeklouter.

“Dis ongelooflik,” het Angela aan Metro gesê. “Ek kan net een of twee keer onthou waar sy vantevore self uit haar vyfpunt-harnas kon kom. Sy het op ’n manier uitgekom, danksy adrenalien of wat ook al, en kaalvoet by die wal opgestap.”

Toe sy die bopunt bereik, het Lexi ’n motor gestop en vir die bestuurder vertel wat gebeur het. Die bestuurder het saam met haar afgestap en klein Peter uit die motor gehaal. Hy kon egter nie op sy eie vir Angela na veiligheid bring nie, en is terug na die pad om nog ’n motoris se hulp te kry.

Dié motoris was wonderbaarklik genoeg ’n paramedikus wat geweet het hulle moenie vir Angela skuif nie. Die familie is per lugvervoer na ’n hospitaal in Edmonton geneem waar Peter dadelik geopereer is vir ernstige bloeding op die brein.

“Dis ongelooflik, want die ou wat ons in die hospitaal kom sien het, het gesê die medici en brandweermanne het toue nodig gehad om op en af die wal te beweeg en sy’t dit kaalvoet gedoen,” sê Angela.

Die gesin sterk tuis aan.

Bronne: dailymail.co.uk, metronews.ca, elitedaily.com