“Hoe oulik is dit nou nie?” sê die advertensiekonsultant oor een van haar jongste toevoegings tot haar reeds reuse versameling #CheckersLittleShop.

Sy was “superopgewonde” toe sy hoor Checkers se Little Shop-versameling keer terug met nog mini-produkte van bekende handelsname. “Ek weet nie of dit net nuuskierigheid is of omdat dit bloot so oulik is nie, maar ek is báie bly dit is terug.”

Met Little Shop 1 het Antonette aanvanklik beplan om yskasmagnete van die mini’s te maak, maar vir die tweede reeks is daar ’n spesiale tassie.

Maar toe Antonette haar naaste Checkers besoek was die voorraad tassies reeds opgeraap. “Maar, soos hulle sê, ’n boer maak ’n plan.”

Sy het afgesit na haar broer in Stilfontein en het een van sy dogters, Jessie “met  ’n geldjie en lekkergoed” omgekoop vir háár tassie. “En so het ek my tassie en ek is dolgelukkig. Kan jy glo dat ’n 42-jarige vrou erger as ’n kind kan wees!” lag Antonette oor haar groot Little Shop-manie.

Sy skram egter allermins weg van haar groot obsessie met die klein kruideniersware. “Glo my, dit is ’n verslawing. As jy eers begin het kan jy nie ophou nie. En mense vra my vir my mini’s, maar ek gee nie sommer daarvan weg nie."

Antonette ruil wel graag met mense uit, “want dit is deel van die pret.”

Sy sê met die Little Shop 1 het mense dit tot op Facebook geadverteer. “En dan bedoel ek geadverteer om te verkoop! Van die items was bietjie skaarser as anders, soos die Vaseline.” Vir so iets was mense bereid om tot R50 vir een item op te dok. “Mense het geld gemaak soos bossies.”

Tot vandag toe benodig sy steeds die mini-Vaseline vir haar versameling, maar sy hou nie op soek nie.

Om Checkers te besoek beteken groot opwinding vir Antonette. “Ek sal selfs mense se inkopies namens hulle gaan doen, énige tyd, solank ek die mini’s kan kry,” sê sy.