Vir die meeste mense is ’n “pothole” ’n slegte ding wat jou net skade gee, ongerief veroorsaak en jou geld kos. Maar vir Susan Wilken was dit geluk by die ongeluk.

Toe ons die dag ’n “pothole” tref, het ek nooit gedink ek sal die liefde van my lewe ontmoet nie.

Op 22 Desember verlede jaar het my pa besluit om na die Jasmyn-plaasstal toe te ry op Hartbeespoort. Ek het besluit om saam te ry. Die Vanderhofpad is maar sleg en vol slaggate. Seker so 6 km van Jasmyn af tref ons toe ’n slaggat.

Die twee bande aan die passasierskant het seergekry. Ons moes aftrek. Ons het net een noodwiel gehad en was baie bekommerd. My pa begin toe die voorste wiel afhaal en ek soek ’n nommer op die internet van iemand wat kan help.

Ek bel toe BestDrive en hulle vat my nommer en sê hulle sal iemand stuur om ons te kom help, maar dat hy sal bel as hy op pad is.

Intussen het die roetepatrollie verbygekom en ons gehelp. Die noodwiel is toe op, maar die wielvelling het die agterste wiel beskadig en hulle het ons tot by die naaste plek geneem wat kan help, wat BestDrive was.

susan-wilken-1

Ek storm toe daar in en sê dis ek wat gebel het. Hulle sê toe die man wat ons sou gaan help, is reeds daar weg - sonder om te bel.

Hulle laat weet hom toe hy kan terugkom. Hy het ons dadelik gehelp en die wiele afgehaal. Ons was baie dankbaar dat dit net die wielvellings was wat die bande beskadig het en ons die band gou kon regmaak. (Ek het agterna gehoor hy het ons so mooi gehelp om my te beïndruk.)

Ek het hom onderlangs dopgehou en dadelik van hom gehou. Ek het ook gedink hy is aantreklik.

Met die bande weer reg, ry ons toe Jasmyn toe om iets by die Windmeul Wafelhuis te gaan eet. Ek het heeltyd aan die ou gedink en vir my pa gesê hy moet vir my die rekening gee sodat ek kan kyk of sy nommer nie daarop is nie. Ongelukkig was net die kantoornommer daarop.

Vroeg in die jaar kry ek toe ’n WhatsApp van ’n vreemde nommer. Ek het ’n nuwe foon gehad en van my nommers verloor, dus reageer ek toe maar op die boodskap en vra wie dit is. En sowaar, dit is die ou van BestDrive wat ons gehelp het: Bismarck Van de Watt (24).

Ons gesels toe so lekker op WhatsApp, hy vra of ek nie die volgende middag saam met hom wil gaan koffie drink nie. Ek het dadelik ja gesê.

susan-wilken-2

Die Saterdagmiddag was ek by die Menlyn-winkelsentrum vir die koffie-afspraak. Bismarck was so ’n bietjie laat omdat hy van Hartbeespoort na Menlyn verdwaal het, maar van die begin af was ons gemaklik in mekaar se geselskap.

Ons het seker drie uur lank sit en gesels, en toe besluit om te gaan fliek. Daar was tyd voor die fliek en ons gaan toe Hard Rock Cafe toe.

Die atmosfeer was lekker en ons het iets bestel om te drink. Toe vat Bismarck my hand. Ek was vreeslik skaam, maar een date het toe sommer drie dates geword en ek sal ons eerste soen nooit vergeet nie.

Ons het die hele week op WhatsApp gesels en die volgende Saterdag is ek vroeg Hartbeespoortdam toe waar ons gaan bergklim, braai en swem het. Op Valentynsdag het ek ’n verrassingspiekniek gekry met voorgereg, hoofgereg en nagereg.

Aan die einde van die aand het hy my gevra of ek sy meisie sal wees en ek het ‘ja’ gesê. Al is ek drie jaar ouer as hy, pla dit ons nie.

Dit is nie altyd maklik om in die week bymekaar te wees nie. Ek bly in Pretoria en Bismark op Hartbeespoort. Naweke bring ons graag saam deur. Ons deel mekaar se liefde vir die natuur en draf en het al wedlope saam gedoen.

Verder geniet ons dit om saam met vriende en familie te kuier of om net rustig ’n fliek by die huis te kyk. Ons het nog so baie dinge wat ons saam wil doen en het ’n doenlys sodat ons by alles kan uitkom.

Die beste ding wat my pa kon gedoen het was om deur daardie “pothole” te ry. Ek sê gereeld vir hom dankie daarvoor. Ek en Bismarck is gelukkig en hoop ons kan altyd bymekaar wees.

Dit wys ’n mens hoe onvoorspelbaar en vol verrassings die lewe kan wees. ’n Mens moet elke dag voluit leef; jy weet nooit hoe jy verras kan word nie.

susan-wilken-3