Jy weet seker ’n knop in jou bors is dalk ’n teken van borskanker, maar nog tekens kan op dié siekte dui.

En dit is presies wat Corrine Ellsworth Beaumont jou wil wys.

Die Londense ontwerper wil met suurlemoene die visuele tekens wys van dié siekte wat dodelik kan wees – en haar slim uitbeelding word wyd en syd gedeel.

Corrine het albei haar oumas, op onderskeidelik 40 en 62 jaar, aan borskanker afgestaan. Sy sê sy het agtergekom daar was nie genoeg inligting oor die visuele simptome beskikbaar nie en het gevoel sy moet met ’n oplossing vorendag kom, berig die BBC.

“Party pasiënte wil nie oor borste praat of daarna kyk nie,” sê sy; daarom het sy suurlemoene gebruik om die tekens te illustreer.

“Vroue wat in veldtogte gebruik word, lyk nie soos gewone vroue nie. Maar selfs dié met min geletterdheid, kan die suurlemoenbeelde verstaan.”

Op die foto wat die meeste gedeel word, is 12 suurlemoene in ’n houer wat soos ’n eierboksie lyk. Met elkeen van die vrugte skort iets wat die onderskeie tekens voorstel waarvoor vroue moet uitkyk, soos rimpeling en kuiltjies in die vel van die bors, en ’n tepel wat na binne inkeer.

Corrine, stigter van die liefdadigheidsorganisasie Worldwide Breast Cancer, het die Know Your Lemons-beeld eintlik al in 2003 geskep, maar toe die voormalige kankerlyer Erin Smith Chieze die foto op Facebook deel, het dit soos ’n veldbrand versprei.

Fase 4-borskanker is by Erin gediagnoseer nadat sy ’n duikie op haar bors opgemerk het soortgelyk aan dié wat op die suurlemoenfoto gewys word.

“Iemand het eenkeer ’n foto op Facebook geplaas van hoe borskanker kan lyk,” het sy op Facebook geskryf.

“Nie voel nie, maar lyk . . . In Desember 2015, toe ek die duikie sien wat soos een van daardie foto’s lyk, het ek dadelik geweet ek het borskanker. Ek het ’n gewas probeer voel, maar my gewas was nie voelbaar nie. Borskanker is vyf dae later by my gediagnoseer en fase 4 die volgende maand.

“Ek het geweet wat borskanker is. Ek het alles oor selfondersoeke geweet, maar ’n foto van waarvoor om te kyk, het my laat besef ek het ek ’n terminale siekte. Ons moet REGTE inligting gee; nie oulike hartjies nie. As ek nie toevallig ’n foto met regte inligting gesien het nie, sou ek nie geweet het waarna ek moet soek nie."