Byna 10 miljoen mense het reeds die afgelope maand die vreemde, fassinerende video van die Japannese kunstenaar Piko Taro, kompleet geklee in 'n luiperdvelpak, op YouTube gekyk.

Piko gebruik 'n denkbeeldige pen en vrugte om 'n absurde dansie uit te voer waarin hy herhaaldelik die woorde Pen-Pineapple-Apple-Pen sing. Sedert die video wyd aanlyn versprei het, is dit ingesluit in YouTube se Best of YouTube-kanaal en het 'n debat ontstaan of Piko se video dalk die nuwe Gangnam Style is, wat 'n paar jaar gelede soveel opslae gemaak het.

Min is nog bekend oor die mannetjie in die luiperdvelpak; sy verstommende danspassies het die internet ietwat onkant gevang. Luidens Piko se beskrywing by sy video word dit opgedra aan "the person whom I do not entrust with music to affect a heart”.

Natuurlik het talle "Pen-Pineapple-Apple-Pen”-memes en grappies intussen opgeduik waarin gebruikers Piko se pynappels en appels deur omtrent enige denkbare ander voorwerp vervang.

 

Selfs bekendes het laat hoor hoe baie hulle van Piko se liedjie hou.  

Hoewel ontsettend baie mense al daarna gekyk het, kom Piko se liedjie nog nie naby Gangnam Style nie. Die video vir daardie liedjie deur die Koreaanse popster Psy is al meer as 2,6 biljoen keer op YouTube gekyk.