Was die trein waaruit haar seuntjie na sy dood geval het se deur oop?

Dít is die vraag wat by Annelize van Loggerenberg spook nadat haar 13-jarige woelwater, JC, Woensdagoggend net voor agtuur uit ’n bewegende trein tussen Luipaardsvlei- en Witpoortjie-stasie in Krugersdorp geval het.

Lees ook: 13-jarige treinslagoffer van Krugersdorp se laaste woord was ‘Mamma . . . ‘

Die vraag bly in haar gedagtes maal: Sou haar kind nog hier gewees het as die trein se deur wel toe was?

Die roudiens vir haar seun word Maandag by die West Rand Bikers Church in Krugersdorp gehou. Na afloop daarvan sal sy liggaam veras word en sy oorskot in die Sterkfontein-begraafplaas begrawe word langs die graf van sy sussie wat as ’n baba oorlede is.

Nadat sy haar seun se oorskot langs haar dogter begrawe het, sê Annelize, gaan sy dit oorweeg om regstappe teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) te neem. “As ek net een mens kan red – as ek net een ma die pyn om ’n kind so te verloor spaar – sal ek dit doen,” sê sy.

Toe sy haar sterwende seun Woensdagoggend ná die ongeluk teenaan die treinspoor aantref, net betyds om te hoor hoe hy vir oulaas “Mamma” fluister, beweer Annelize sy het met haar eie oë gesien hoe ’n volgende trein met oop deure verbykom.

Die twee seuntjies was op pad om hul rapporte met hul skooluitslae by Roodepark-skool in Roodepoort te gaan haal en was vreeslik opgewonde oor die vakansie wat voorlê omdat hulle saam by die Vaalrivier sou gaan visvang.

Die tassie met visvang-gereedskap staan nou onaangeraak in die huis van JC se maat, het ’n kennis in trane vir Annelize kom vertel.

Intussen het Lilian Mofokeng, Prasa-woordvoerder, by navraag gereageer op gerugte dat van die trein se deure dalk nie toe was nie en dat die trein na bewering oorvol was. “Geen treine word vervaardig met treindeure wat nie werk nie,” sê sy.

“Daar is plek vir sowat 180 – 200 pendelaars in ’n kajuit. Wanneer ons soms diensontwrigting beleef en ons treine derhalwe laat is, raak die treine vol. Maar ons het ook al gesien daar is ’n neiging dat sommige pendelaars nie in die trein wil klim nie, maar eerder naby aan die treindeur wil staan.”

Sy sê kinders moet tot op die ouderdom van agt deur volwassenes vergesel word wanneer hulle treinry.

“Die veiligheid van pendelaars en werknemers bly ’n prioriteit vir Metrorail en hierdie insident is betreurenswaardig.

"Namens Metrorail se bestuur wil ek ons innige meegevoel met die familie betuig.”