Paul Mason, voorheen die vetste man ter wêreld, weeg nou meer as 300 kg minder en is halsoorkop verlief.

Die 52-jarige Brit het sy eerste meisie, die Amerikaanse sakevrou Rebecca Mountain (40), deur Facebook ontmoet.

Rebecca het Paul genader nadat sy na ’n dokumentêr oor sy vetsug gekyk het. Sy het aangebied om hom te help geld insamel om sy oortollige vel te laat verwyder.

Paul het op sy swaarste meer as 440 kg geweeg. Hy het vier jaar gelede verstommend baie gewig verloor nadat hy ’n maagomleiding gekry het. Sedertdien sit hy opgeskeep met meer as 50 kg los vel.

Hoewel Paul en Rebecca sowat 5 400 km van mekaar af gewoon het, het hulle dadelik goed oor die weg gekom. “Ons eerste gesprek op Skype het langer as vier uur aangehou; dit het gevoel asof ons mekaar al jare ken,” vertel Paul. “Aan die einde van die gesprek het ek haar net gevra: Hoe laat môre?”

Rebecca sê sy het gesukkel om ’n noue band met mans te smee en was moeg daarvoor om met mans uit te gaan. Paul is anders. “Hy is ongelooflik, hy is eg,” sê sy. “Hy is ongelooflik eerlik en openlik oor die probleme wat hy ervaar het, iets wat ons verhouding gehelp het.”

Ná nog ’n marathon-sessie op Skype het Rebecca gesê: “Ek hou regtig van jou.” Hulle is van toe af ’n paartjie.

Die twee verliefdes het mekaar eers onlangs in lewende lywe ontmoet. “Toe ek haar op die lughawe sien, was dit baie beter as haar foto op Skype,” sê Paul. “Dit was so natuurlik, soos om iemand te ontmoet wat jy 10 jaar gelede al leer ken het.”

Paul wil nou Amerika toe trek om Rebecca met haar kattespeelgoed-onderneming te help. Hulle hoop ook om genoeg geld in te samel vir Paul se velverwyderingsoperasie.

Saamgestel deur Petro-Anne Vlok

BRONNE: dailymail.co.uk, nydailynews.com, youtube.com