Dié vonds het die wêreld verstom, veral die toestand waarin Manfred se lyk gekry is. Hy sit-leun aan die seiljag se tafel langs die kommunikasiekonsole. Voor hom op die tafel is sy radiotelefoon. Wou hy dalk hulp ontbied het?

Die kajuit, gedeeltelik onder water, het albums opgelewer met foto’s van sy vrou, familie en vriende. Klere en blikkieskos het rondgestrooi gelê. Teen die muur was ’n bordjie wat lui: “This is a swell ship for the skipper. . . but a hell ship for the crew.”

Lees ook: Vissers vind gemummifiseerde seiljagvaarder

Manfred het die afgelope 20 jaar talle oseane bevaar aan boord van die Sayo, ’n 40 voet lange boot. Sommige van sy vaarte was aan boord van ander skepe. Daar bestaan geen twyfel dat Manfred Fritz ’n man van die see was nie. In 2008 het hy homself aan boord van die vragskip Hyundai Renaissance bevind en die ewenaar oorgesteek onderweg van Singapoer na Durban. Volgens ’n onderhoud met die Duitse dagblad Bild het hy in 2009 vriende gemaak met ’n man genaamd Dieter. Hy bestempel Manfred as ’n ervare seiljagvaarder en glo nie hy sou ’n storm binnegevaar het nie. “Ek glo die mas het gebreek nadat Manfred reeds gesterf het.” Sover bekend, was een van die mense wat laaste met Manfred kontak gehad het, ’n vriend wat ’n jaar gelede met sy verjaardag deur Facebook van Manfred gehoor het. Manfred en sy vrou, Claudia, se paadjies het in 2008 geskei. Twee jaar later, op 2 Mei 2010, is sy aan kanker oorlede.

Op ’n forum vir seiljagvaarders, kaktusguenther.de, het hy blykbaar hierdie huldeblyk aan haar opgedra: “Dertig jaar was ons saam op dieselfde pad. Toe word die mag van die demone sterker as die wil om te lewe. Jy’s weg. Mag jou siel vrede vind. Jou Manfred.”

Manfred, mag jou siel ook vrede vind . . .

Bronne: foxnews.com, dailymail.co.uk, contis.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse se grootmaak-ma het gedink ‘haar mamma wil haar nie hê nie’

Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

‘Liefdesdriehoek’ eindig tragies