Die akteur Michael Douglas (68) het onlangs verklap ’n seksueel oordraagbare siekte, en nie sy drank- of rookgewoontes nie, het hom keelkanker gegee.

Michael, wat met die Walliese aktrise Catherine Zeta-Jones (43) getroud is, het in ’n onderhoud met The Guardian gesê: “Daardie spesifieke soort kanker word deur die menslike papillomavirus (MPV) veroorsaak en dit kom eintlik van orale seks met ’n vrou.”

As jy met meer as ses mense orale seks gehad het, is jou kanse 10 keer groter om orofaringeale kanker te kry, sê prof. André van Zyl van die Universiteit van Pretoria se skool vir tandheelkunde. Hoewel drank en rook ook die siekte veroorsaak, is die subtipe orofaringeale kanker, wat deur die MPV veroorsaak word, gevaarliker, waarsku hy.

Die MPV verskil van ander seksueel oordraagbare siektes omdat die meeste mense nie weet hulle is daarmee besmet nie. MPV’s is ’n groep van 150 verwante virusse, waarvan meer as 40 versprei word deur seksuele kontak.

Seksueel oordraagbare MPV’s val in twee kategorieë – hoë en lae risiko. Laerisiko-MPV’s kan vratte rondom die geslagsdele veroorsaak, terwyl hoërisiko- of onkogeniese MPV’s tot kanker kan lei. Kankers wat deur MPV’s veroorsaak word, sluit in servikale, anale, vaginale, penis- en orofaringeale kanker.

Die nasionale kankerinsituut van Amerika raam dat meer as die helfte van seksueel aktiewe mense die een of ander stadium in hul lewe met die een of meer MPV besmet is. Daar is tans geen kuur vir MPV nie, maar die simptome, soos vratte rondom die geslagsdele, kan behandel word. ’n Mens kan wel teen sekere soorte MPV ingeënt word. Praat met jou dokter vir nog inligting.

As dit nie betyds ontdek word nie, kan orofaringeale kanker die lippe en tong vernietig en dit onmoontlik maak om te eet of praat. Simptome van die siekte sluit in ’n knaende seer keel, ’n gehoes, sukkel om te sluk, oorpyn, dowwe pyn agter die borsbeen, verandering in stem en ’n knop agter in die keel, mond of nek.

– Kirstin Buick

Bronne: guardian.co.uk, timeslive.co.za, citypress.co.za, cancer.gov