Dink jou in: Jy is vasgekeer in ’n huis wat aan die brand is. Waarheen gaan jy? Wat brand eerste? Sal jy lewend kan uitkom as jy net ’n paar minute het om van die vlamme en die verstikkende rook te vlug?

Jy kan nou ’n idee kry van hoe dit voel om in so ’n situasie te wees nadat die brandweerdiens in Nieu-Seeland ’n video vir skynwerklikheidstoestelle opgeneem het, berig Vice.com.

In die video Escape My House word wasgoed langs ’n verwarmer gelos. Oomblikke later word die huis deur vlamme verswelg.

As deel van die video moet jy self besluit hoe jy uit die huis gaan ontsnap.

Die brandweerdiens het ’n regte huis gebruik en met 360°-kameras afgeneem, berig NewsHub.com.

Hulle het die kameras in spesiale kassies toegemaak om hulle teen die hitte van die vlamme te beskerm.

Met dié program wil die brandweer ook mense aanmoedig om ’n ontruimingsplan in plek te kry indien hulle eendag in hul eie brandende huis vasgekeer is.

Die video kan op selfone, rekenaars of VR-brille gekyk word.