Dit lyk soos ’n dorre woestynlandskap behalwe vir ’n bietjie water hier en daar. Die gewoonlik reuse-hoeveelheid water in die Theewaterskloofdam is vinnig besig om te verdwyn.

Trouens, dit vererger by die dag.

’n Onstellende video deur die Kaapse fotograaf Johnny Miller wys hoe laag die Theewaterskloofdam se watervlakke tans is. Dié massiewe dam buite Villiersdorp verskaf ’n groot hoeveelheid drinkwater aan die Kaapse metropool.

En dis byna dolleeg.

"Hierdie video wys die Theewaterskloofdam op 17 Januarie 2017," skryf Johhny by sy video, wat met behulp van ’n hommeltuig geneem is.

"Dit wys hoe erg die dam opgedroog het. Die rede waarom dit ’n probleem is, is die feit dat die Theewaterskloofdam die grootste dam by vêrre is wat Kaapstad van drinkwater verskaf (groter kapasiteit as al die ander groot damme bymekaar).

"Deel asseblief hierdie video as jy sukkel om te verstaan waarom ons waterbeperkings benodig en hoe dit jou direk kan affekteer, die eindverbruiker wat water drink."

Die stad Kaapstad se damvlakke staan tans op 41,4%, het Huisgenoot vroeër berig.

Dié kommerwekkende vlak kan tot so laag as 20% daal in komende maande indien daar nie drasties water bespaar word of voldoende reën uitsak nie.

Indien jy sou sien jou buurman hou nie by die beperkings nie, bly jou plaaslike munisipaliteit die beste plek om dit aan te meld, aangesien munisipaliteite die beperkings moet afdwing.

In so ’n geval, skakel gerus die departement van water en sanitasie se kliëntediensnommer, 0800-200-200, om ’n klag te lê of vra om deurgesit te word na die munisipaliteit ter sprake.