Volgens die tydskrif Time het ’n nuwe studie deur PLOS ONE, ’n internasionale eweknie-hersiene aanlyn publikasie, die eerste keer dié verband raakgesien. Navorsers het bevind puntenerige ouers wat hulle te veel bekommer terwyl hul kinders buite speel, veroorsaak eintlik dat hulle dan minder aktief is en meer tyd voor ’n rekenaar of televisie deurbring.

Hierdie sogenaamde helikopter-ouers het dikwels hul kinders se spontane spel onderbreek, wat hulle dan onaktiewer maak. “Die vrees vir gevaar maak kinders vet, tesame met hulle wat heeldag binnenshuis, onaktief en naby die yskas is,” sê Lenore Skenazy, ’n openbare spreker en die stigter van die boek en blog Free-Range Kids.

Om dus te verseker niemand kan jou hiervan beskuldig nie, moet jy dit weet om ’n goed aangepaste kind groot te maak sonder om ’n oorbeskermende SuperMa te wees.

Eienskappe van ’n helikopter-ouer:

  • Jy spring altyd in om te help, al sukkel jou kind met iets kleins.
  • Jy maak in elke omstandigheid ’n lys moontlike emosionele, sielkundige, sosiale, akademiese of fisieke gevare.
  • Jy probeer altyd enige ongemak verlig wat jou kind ervaar.
  • Jy moet by alles betrokke wees wat jou kind doen

Hoe jy daardie gewoonte kan afleer:

1.       Wees eerder ’n duikboot-ouer. Bly naby, maar buite sig sodat jou kind die gewoonte afleer om vir elke probleem na jou te hardloop.

2.       Herinner jou kind net een keer oor die moontlike gevare. Niemand hou van iemand wat sanik nie, en niemand wil sanik nie. Waarsku jou kinders dus net een keer, en staan dan terug.

3.       Fokus daarop om jou kinders met die nodige vaardighede toe te rus. Jy is nie heeldag by jou kinders nie, dus moet jy vertrou dat jy hulle met die nodige vaardighede toerus, en help die nodige vaardigheid onder die knie kry wanneer jy sien hulle sukkel.

4.       Herken die paradoks. Laat jou kinders uit hul foute leer. Jy is nie ’n swak ouer nie, jy berei hulle op volwassenheid voor. Onthou, jou kinders gaan eendag sonder jou moet klaarkom.

5.       Tel tot 10. Solank jou kind nie in gevaar is nie, moet jy tot 10 tel voor jy jou kind help. So besef jy jou kind het nie noodwendig altyd jou hulp nodig nie.

- Janine Nel

Bronne: time.com, kidspot.com, babycenter.com, cbsnews.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.