uberman

Toe Kelly du Plessis onlangs ’n vergadering in die middestad in Pretoria verlaat, het sy besef haar motor is weg.

“Dit was eenvoudig net nie meer daar nie,” het sy in ’n Facebook inskrywing gesug.

“Ek het ’n polisiebeampte ontbied om vir hom te sê my kar is gesteel en toe sê hy: ‘Nee, dame, dis waarskynlik net weggesleep! Hierdie is parkering vir diplomatieke voertuie.’ Weens konstruksiewerk was daar geen padtekens of padmerke nie, daar was net van daardie betonhindernisse.”

Haar foon se battery was pap, maar “gawe sekerheidswagte het gehelp” dat dit sy agter die toonbank in ’n kantoor kon herlaai.

“Hulle het namens my rondgebel en vasgestel daar is ’n paar plekke waar my kar moontlik kon wees.”

Dis toe dat Kelly ’n Uber-motor ontbied en “Thabang op sy wit perd opgedaag het”.

Dié “ware heer” het Kelly se foon in sy motor herlaai en haar in die middestad rondgery om haar vermiste motor te help soek. Toe hulle die insleepwerf bereik, het Thabang daarop aangedring om haar binnetoe te vergesel.

“Hy’t na my gekyk en gesê: ‘Dame, dis te gevaarlik daar, ek kan jou nie alleen laat ingaan nie!’ ” vertel Kelly in die inskrywing, wat meer as 7 000 reaksies ontlok het sedert sy dit op 17 November gedeel het.

“Hy het heel beleef saam met my by die stasie ingestap, met die beamptes in hul eie taal gepraat en vasgestel dat my motor daar was. Thabang het selfs namens my baklei en vir hulle gesê daar was weens die konstruksiewerk geen tekens opgerig nie.”

Die “ware held” het agterna seker gemaak dat Kelly veilig in haar motor en uit die insleepwerf is voor hy vertrek het.

“Hy is ’n ware juweel en het baie van die stres en spanning uit die situasie gehaal! Hy was gister my held. Dankie, Thabang. #UberHero"

Kelly se storie het positiewe reaksie ontlok, met talle wat Thabang geloof het dat hy daardie bietjie ekstra gedoen het om haar te help om haar motor op te spoor.

“Sjoe, daar is soveel goeie mense in ons Reënboognasie. Laat ons nie ons aandag laat aflei daarvan deur diegene wat ’n negatiewe boodskap versprei nie. Ons moet aanhou om die woord oor ons pragtige land te verkondig,” het Louise Beukes geskryf.

“ ’n Ware voorbeeld van eenheid in ons land. Knap gedaan,” het Jacqueline Nowakowitsch laat hoor.

* Kelly het nog nie reageer op ’n versoek op kommentaar nie.