Blackpool in Engeland het ’n baie spesiale en bejaarde tuimeltrein, die Blue Flyer. Die 82-jarige plesierigheid, wat tot 2010 die Zipper Dipper genoem is, is nog in ’n merkwaardig goeie toestand.

Ook maar goed, want twee kwajongens het onlangs besluit hulle stel die bekende baken op die proef – en dit sonder toesig of toestemming.

Die twee (een is 15 en die ander een se ouderdom is onbekend) het een oggend vieruur daarin geslaag om oor die pretpark se heining te klim en toegang tot die hupse Blue Flyer se beheerkamer verkry.

Voor jy kon sê “Zipper Dipper” het die twee dit verstommend genoeg reggekry om die tuimeltrein op eie stoom aan die gang te kry.

Daarna het hulle sowat ’n halfuur lank daarop kerjakker. Dit beteken hulle het in alle waarskynlikheid sowat 30 ritte onderneem, want een rit duur ’n minuut.

Daarna het die kafeteria aan die beurt gekom. ’n Kosgeveg het uitgebreek, maar geen blywende skade is aangerig nie.

David O’Hara, ’n raadslid van Blackpool, het gesê die twee kon hulself doodgemaak het.

Hy het gewonder hoekom sulke jong kinders daardie tyd van die oggend buitenshuis was. “Waar was die ouers?” het hy gevra.

Al is dit oud, is hierdie pretwa ’n manjifieke voorbeeld van tydlose tegnologie. Hedendaagse adrenalienvrate sal dalk grinnik as hulle hoor dit kan “net” 40 km/h haal en op die verste ’n skrale 5 m ondertoe tuimel.

Verstommend is ook die feit dat die Blue Flyer nog met hout gebou is en nie ’n moderne staalkonstruksie is nie.

Na die eskapades in die vroeë oggendure is die Blue Flyer weer deeglik versien en oopgestel vir die publiek.

Een van die twee kwajongens, wat deur sekuriteitsbeamptes op die perseel vasgevat is, moet as straf gemeenskapsdiens doen.

Animasiegrafika rondom tuimeltruine en gravitasie.

Bronne: theguardian.com, metro.co.uk, mailonline.co.uk, blackpoolgazette.co.uk