Ons koop, doen banksake, netwerk, basuin inligting aan die wêreld uit en lééf deur ons elektroniese toestelle. Misdadigers besef dit duidelik en is altyd gereed om daaruit munt te slaan.

“Stop en dink ’n oomblik oor hoeveel inligting jy op elektroniese toestelle berg en deel,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Terwyl baie booswigte eenvoudig daarin belangstel om hierdie toestelle te steel en weer te smous, is ander meer gestel op jou digitale voetspoor en waarheen jou boodskappe, e-posse, apps en gebergde besonderhede hulle kan lei.”

Volg dié wenke om te voorkom dat jy ’n slagoffer word:

  • Maak dit ’n reël om nie sensitiewe inligting op jou foon of skootrekenaar te berg of foto’s te neem van dokumente wat sulke inligting bevat nie.
  • Moenie jou huisadres in jou GPS berg nie. Stoor dit eerder onder ’n ander, minder voor die hand liggende naam of sleutel die adres van ’n baken naby jou huis in.
  • Moet nooit jou hek- of alarmafstandbeheerder of jou huissleutels in jou voertuig los nie.
  • Maak seker jy het goeie toegangsbeheer deur middel van sterk wagwoorde. Gebruik verskillende wagwoorde vir verskillende soorte rekeninge.
  • Moenie kies dat jou webblaaier jou wagwoorde onthou nie.
  • Moenie jou wagwoorde of PIN neerskryf nie, veral nie op ’n stuk papier of in ’n notaboek wat in dieselfde sak as jou foon of skootrekenaar is nie.
  • Teken uit jou toestelle en apps uit of sluit hulle wanneer jy hulle nie gebruik nie.
  • Moenie aanlyn inteken by ’n plek of hutswoorde gebruik wat misdadigers kan help om jou te identifiseer en jou ligging vas te stel nie. Vermy dit veral om by jou huisadres in te teken.
  • Moenie vriendskaps- of volgelingaansoeke van elke Jan Rap aanvaar nie.
  • Wis al jou persoonlike data op ’n toestel uit voordat jy dit verkoop, weggee of weggooi.
  • Gebruik ’n app wat jou in staat stel om persoonlike inligting selfs vanaf ’n verafgeleë ligging uit te wis.
  • As jou foon of rekenaar gesteel word, verander dadelik jou wagwoorde om enige ongemagtigde toegang te vermy.

“Ondanks jou beste voorsorgmaatreëls kan booswigte steeds die oorhand oor jou kry, so dit is noodsaaklik om voldoende draagbaregoedereversekering spesifiek vir hierdie toestelle uit te neem,” sluit Elmarie af.