Die oorgang van die een graad na die volgende kan moeilik en uitdagend wees, maar dit is veral moeilik vir leerders wat van gr. 3 na gr. 4 vorder. En soos baie ouers jou sal vertel: Die sprong van die grondleggingsfase van vroeë onderrig na die intermediêre fase (gr. 4-6) kan vreesaanjaend en moeilik wees.

In gr. 4 neem jou kind se werklading beduidend toe. Dit is ook die tyd wanneer leerders die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) begin volg.

“Die KABV-stelsel is ontwerp om ’n kind se onafhanklikheid te ontwikkel,” verduidelik Madi Mbambo, ’n gr. 5-onderwyseres van die Primêre Skool Panorama in Pietermaritzburg, en voeg by die KABV-stelsel vereis boonop dat kinders navorsing vir hul vakke moet doen.

“Kinders moet op hul eie kan werk en dink. Dit moedig kritiese denke aan; leerders moet self goed ontdek.”

Dit is dikwels waar die probleem lê, want as jy altyd jou kind gehelp het, is dit tyd om te laat los. Dit kan vir hulle moeilik wees en jou laat skuldig voel. Buiten die akademiese uitdaging kan die begin van gr. 4 ook ’n emosiebelaaide tyd vir jong kinders wees. Namate hulle ouer word, word hulle meer bewus van hul verskille en van hul vermoëns, en dit kan ’n kind se selfbeeld aantas.

Die kliniese sielkundige Cristine Scolari sê ouers moet kinders erkenning vir hul gevoelens gee. “Sê vir jou kind: ‘Ek weet jy dink die werk is moeilik, maar kom ons probeer dit verstaan . . .’ ”

Sy voeg by jy moet versigtig wees om te veel druk op jou kind te plaas, “maar dit sal ook nie help om geen verwagtings van jou kind te hê nie”.

Ouers moet daarop ingestel wees om ’n ongelukkige kind raak te sien. ’n Gebrek aan geesdrif oor skool of skoolwerk, klagtes dat skool “vervelig” is of gedragskwessies soos om meer as gewoonlik te eet of slaap, kan tekens van moeilikheid wees.

Maar hoe kan jy jou kind hierdie nuwe leerkurwe help baasraak?

Madi verduidelik pa’s en ma’s moet ’n duidelike begrip hê van wat aan die begin van gr. 4 gebeur; dit sal hulle in staat stel om hul jong kind die regte vlak van ondersteuning te gee.

Hier is haar lys van die moeilikste uitdagings, en ’n paar praktiese wenke om die slag te versag:

  • UITDAGING: Begin om te laat los en moenie die kind se huiswerk vir hom doen nie. Laat hulle toe om onafhanklik te wees. Monitor jou kind se huiswerk, sê Madi, maar moenie hul huiswerk namens hulle doen nie. Wys jou kind eerder hoe om die werk te doen. Byvoorbeeld, as jou kind drie somme vir wiskunde moet voltooi, doen een som as ’n voorbeeld en laat hom die res doen.
  • UITDAGING: Nuwe onderwysers is ’n werklikheid wanneer jou kind die intermediêre fase betree. Dit kan frustrerend wees, veral vir skaam kinders. Doen moeite om ’n verhouding tussen jou kind en sy onderwysers te fasiliteer, sê Madi. Indien nodig, reël ’n vergadering met die nuwe onderwyser en neem jou kind saam. Dit sal hom help gewoond raak aan die nuwe gesig wat vir hom klas gee.
  • UITDAGING: ’n Veel swaarder tas, want skryfboeke verdubbel aan die begin van gr. 4. Dit beteken ook meer werk! As jou kind met die ekstra werklading sukkel, skryf hom vir ekstra naskoolse klasse in, stel Nhlanhla Dlamini, ’n onderwyser aan die Katolieke Intermediêre Skool Ekwaluseni op Vrede, voor. Dit sal hom help om die mas op te kom, met die bygevoegde waarde van toesig en hulp.
  • UITDAGING: Langer skooldae, want leerders se klastyd neem van gr. 4 gewoonlik met sowat drie uur toe. Die konsentrasievlakke van kinders wat pas met gr. 4 begin het, is gewoonlik laag, want die langer skooldae tap hul energie. Maak dus seker dat jou kind vroeg gaan slaap sodat sy verstand kan rus. Pak peuselhappies soos kraakbeskuitjies, pretsels en neute, en toebroodjies met grondboontjiebotter of kaas in om sy aandagspan te verhoog.
  • UITDAGING: Spoor jou kind aan om met die nuwe, vinniger pas in die klas by te bly. Ouers moet aangaan waar die onderwyser in die klaskamer opgehou het, sê Nhlanhla. Vind uit aan watter lesse jou kind in die klas werk en moedig hom aan om by die huis vir jou te lees en skryf. As hy sy deel doen, beloon hom; dit sal hom spesiaal laat voel.

- Katlego Mkhwanazi

BRONNE: EDUCATION .COM, MAMAOT .COM