“Dis ’n ysterhoutboom dié,” sê Ben Zeelie (75) en beduie met ’n hand grof van jare se werk met ’n byl en saag.

“Sy hout word vir enige meubels gebruik. Ook vir die dwarslêers waarmee treinspore gebou word.”

Hy en sy broer Ernst (84) kyk opgewonde rond, want sedert die Knysna-bos dekades gelede ’n reservaat geword het, kom hulle selde hier.

[caption id="attachment_152128" align="aligncenter" width="520"]Die broers, Ernst en Ben Zeelie, ken die knysnabos soos die palm van hulle hand. Hier het hulle meeste van hulle dae verwyl as bosbouers. Foto: Misha Jordaan Die broers, Ernst en Ben Zeelie, ken die knysnabos soos die palm van hulle hand. Hier het hulle meeste van hulle dae verwyl as bosbouers. Foto: Misha Jordaan[/caption]

“Sjoe, maar hierdie boom het darem maar vir jou wortelgeskiet,” wys Ernst dan. Jy sien dadelik die boonste lid van sy linkerwysvinger is af. Bosbou-ongeluk, verduidelik hy.

Die Zeelie-broers is van die dorpie Karatara, aan die rand van die bos.

In ’n deel van Karatara wat as Welsynsdorp bekendstaan, het die staat in die 1930’s ’n hawe gestig vir arm Afrikaners.

Van hul afstammelinge woon nog daar. Maar iets krap aan die mense: in sommige privaat reisblogs word hulle beskryf as agterlik en ondertrou.

“Ons is dit beslis nie,” sê Ernst.

“Nes enige ander plek in Suid-Afrika is daar generasies terug onder neef en niggie getrou, maar deesdae gebeur dit nie meer nie. Jy het ook oerouers wat onder mekaar getrou het.”

Die broers is gebore op dié dorp sowat 40 kilometer van Knysna af. En ja, die inwoners is arm, maar hulle sal op geen ander plek wil bly nie. Hul pa was ook ’n bosbouwerker en het die seuns tydens skoolvakansies saamgevat bos toe.

“Daai jare moes hulle nog die hout met osse uitsleep,” vertel Ernst, wat ’n voorman was.

Maar sulke tonele is verby vir die Zeelie-broers en ander inwoners van Karatara. “Dis goed so; ons moet hierdie stukkie hemel bewaar,” sê Ben.

[caption id="attachment_152130" align="aligncenter" width="600"]Ben Zeelie is een van die oudste bosbouwerkers. Hy onthou nog die dae toe hy sy pa gehelp het om hout uit die bos te sleep met osse. Foto: Misha Jordaan Ben Zeelie is een van die oudste bosbouwerkers. Hy onthou nog die dae toe hy sy pa gehelp het om hout uit die bos te sleep met osse. Foto: Misha Jordaan[/caption]

’n Mens voel sommer die vreedsaamheid van die bos aan hier by die dorp, genoem na die Karatararivier wat hier verbyvloei. Die rivier is getrou aan sy Koi-naam, wat "diep en donker" beteken.

Tydens die bloeitydperk van die onafhanklike houtkappers, vroeg in die 1880’s, het so 165 van hulle na raming met hul gesinne in 16 huise en 25 hutte aan die soom van die bos gebly.

Hulle het groot gesinne gehad en staatgemaak op groentetuine en melkkoeie om die spens aan te vul. Die depressiejare en die nasionalisering van woude het tot Karatara se ontstaan gelei.

[caption id="attachment_152131" align="aligncenter" width="600"]Een van die ou bosbou-huisies. Foto: Misha Jordaan. Een van die ou bosbou-huisies. Foto: Misha Jordaan.[/caption]

Die privaat boswerkers kon nie meer die natuurlike Knysna-bos ontgin nie. Van hulle het uit die bos na die dorp gekom en vir die departement van bosbou begin werk.

Die Zeelie-broers was twee van 11 sibbes.

“Ons is baiekeer skool toe met patats om te eet,” sê Ben.

“Daar was swaar dae, maar ook lekker dae,” beaam Ernst.

“As bosbouwerker het jy min geld gekry, maar die pot het aan die kook gebly. Dit was vir my bevredigende werk en Karatara was nog altyd goed vir ons,” sê hy en vryf se hande.

Tiekie Kapp (62), ’n meubelmaker, vertel hy het 24 jaar gelede met sy vrou, Anna, en hul kinders Karatara toegetrek. Hy en Jackie (32), die oudste van sy vier kinders, ly aan dwergisme.

[caption id="attachment_152129" align="aligncenter" width="600"]Tiekie Kapp, die meubelmaker, saam met sy dogter Jackie en sy vrou Anna. Tiekie en Jackie ly alei aan dwergisme. Foto: Misha Jordaan. Tiekie Kapp, die meubelmaker, saam met sy dogter Jackie en sy vrou Anna. Tiekie en Jackie ly alei aan dwergisme. Foto: Misha Jordaan.[/caption]

“Die grootste gif kom in die kleinste botteltjies,” spot hy haar goedig. Jackie glimlag en wys ons haar ringnekpapegaaie in ’n hok in die voortuin.

“Hier is nie baie om te doen op die dorp nie; almal het maar hul eie stokperdjies. Ek probeer werk kry op Sedgefield (die naaste groot dorp), maar mense is huiwerig om my aan te stel omdat ek so kort is,” sê Jackie.

Hul kombuis is so ingerig dat sy en haar ma, wat nie aan dwergisme ly nie, alles ewe gemaklik kan gebruik.

“Dis baie lekker om hier te woon, maar hier is ook baie mense wat sukkel. Ons is geduldig; die windpomp gaan soek nie sy wind nie, die wind kom na hom toe,” sê Anna.

Soos baie ander gesinne leef hulle hoofsaaklik van Tiekie se pensioen, maar Anna maak ekstra geld deur gipsbeelde van byvoorbeeld skoenlappers of engele te maak en te verkoop.

’n Paar huise verder het Sanet Kapp (42) haar familie se “geheime” wortelkoekresep ingespan om ietsie te verdien. Haar voorkamer is vol geelhoutmeubels, wat die vertrek rokerig laat ruik.

“Ek woon al my hele lewe hier op Karatara,” sê sy met trots terwyl sy die lepel vol klam koek na haar rooi lippe bring.

“My pa het van Gouna hierna toe getrek. Hy was ook ’n bosbouer.”

Haar man, Petrus, werk by die polisiëringsforum op die dorp. Sy was vir 21 jaar ’n versorger by ’n ouetehuis op Knysna.

“Ek is mal daaroor om mense te help. Ek het myself so ’n bietjie geleer van verpleegster wees. Oumense is my passie.”

Haar seun, Cornel (15), is op Knysna op skool.

“Ek wil eendag ’n sielkundige word of iets met biologie doen,” vertel hy, en trek los met hoe Joost van der Westhuizen se motorneuronsiekte hom fassineer.

By die Laerskool Karatara gee Heloise du Plessis klas vir gr. 5, 6 en 7 en sy is departementshoof van die skool.

[caption id="attachment_152133" align="aligncenter" width="600"]Die skoolkinders van Karatara. Foto: Misha Jordaan. Die skoolkinders van Karatara. Foto: Misha Jordaan.[/caption]

“Baie van hierdie kinders soek net aandag en liefde,” verduidelik sy.

“Van die ouers stel glad nie belang in die kinders se lewe nie en dan moet jy as ouer, dokter, vriend en onderwyser optree.”

Sommige kinders kry hul enigste maaltyd per dag by die skool danksy ’n voedingskema.

“Ek kry hulle vreeslik jammer. My eerste twee jaar van skoolgee hier het ek om gehuil,” vertel sy.

“Ons probeer die kinders aan soveel dinge moontlik blootstel en hulle regkry vir ’n hoërskool.” Haar grootste wens is vir ’n skoolbussie om die kinders by sportwedstryde en klasuitstappies te kry.

Ja, die gemeenskap trek swaar, maar hulle gee om vir mekaar, sê ds. Marius Coetzee.

“As iemand se hemp geskeur is, gee iemand anders vir hom klere.”

Hy vertel van die Nortjés, ’n gesin van vyf bejaarde broers en susters wat verstandelik gestremd is. Hulle weier om na ’n ouetehuis te gaan.

“Wat moet ’n mens doen? Jy kan hulle nie aan hul hare gryp en daar uittrek nie. Ek en die maatskaplike werkers besoek hulle gereeld en help waar ons kan. Ek behartig hul rekeninge om seker te maak hul welsyntoelae dek hul behoeftes,” vertel hy.

Hannes Botha (52) is ’n vername man, want hy besit die winkel en bestuur die poskantoor. Teen een muur is ’n gipsgietsel van ’n yslike kabeljou.

[caption id="attachment_152132" align="aligncenter" width="600"]Hannes Botha besit die winkel op die dorp en bestuur ook die poskantoor. Foto: Misha Jordaan. Hannes Botha besit die winkel op die dorp en bestuur ook die poskantoor. Foto: Misha Jordaan.[/caption]

“Hy het so 70 kg geweeg,” beduie hy. “Ek en my seun, klein Hannes, is mal oor hengel. Hy het Springbokkleure.”

Deesdae vang hulle nie meer so baie vis nie.

“My seun help my by die winkel. Hengel is ’n duur storie, en ek het gesê hy moet maar kies: Dis óf sy toekoms óf hengel.”

Maar daar is hoop vir die dorp, hoor jy. Die Knysna-munisipaliteit het die bestuur oorgeneem en beplan projekte waarmee hulle nuwe lewe in Karatara wil blaas sodat die dorpie aan die soom van die magiese Knysnabos ’n vreedsame hawe sal bly waar ’n ieder en ’n elk in harmonie kan woon.