Die gewese Pussycat Doll Nicole Scherzinger (36) het op uiterste maniere probeer maer bly, maar toe sy in haar hotelkamer inmekaarsak, het sy besluit om die eetsteuring te klop wat al jare haar lewe oorheers. In die Augustus-uitgawe van die Britse Cosmopolitan sê sy: “Ek hetmy stem begin verloor. Ek kon nie meer by vertonings sing nie. Ek onthou my bestuurder het my in Malta of die suide van Frankryk bewusteloos op die hotelkamer se vloer gekry. Ek het besef ek moet myself begin liefhê, anders gaan ek alles verloor.”

Maar die donkerkopskoonheid, wat in 2012 hart oopgemaak het oor haar eetsteuring, meen dit was ’n moeilike proses omdat dit soos ’n dwelm vir haar geword het. “Dit was so ’n aaklige, verlammende siekte en dit was so ’n donker tydperk vir my gewees. Ek dink nie enigeen het daarvan geweet nie omdat ek dit so goed weggesteek het; ek was so skaam. Ek het geweet dit is nie normaal of gesond nie, want hierdie eetgewoontes het my skade aangedoen. Dit was my dwelm, my verslawing. Dit is ’n eindelose bose kringloop.”

Nicole leef nou gesond en sê haar aan-af-kêrel van die afgelope sewe jaar, Lewis Hamilton, het weer lig in haar lewe gebring. Sy het gesê: “Wel, dis iets romanties. Verhoudings is moeilik, en dis nog moeiliker om in ’n langafstandverhouding te wees. Maar ek is gelukkig.”

Wie loop gevaar?

In die verlede het bulimie bekendgestaan as die wit vrou se siekte, maar onlangse statistieke toon tiener tussen 15 en 18 loop die risiko vir die steuring, ongeag hul ras.

Waarskuwingstekens

Vermoed jy jou tiener sukkel met bulimie? Hier is van die tekens waarop jy bedag moet wees:

  • Jou kind eet ongewoon baie in ’n kort tyd, maar sit nie gewig aan nie of verloor selfs gewig.
  • Hulle gebruik gereeld lakseermiddels.
  • Hulle is ure lank ná etes in die badkamer.
  • Hul tande bederf weens die maagsure wat saam met die kos uitgebraak word.
  • Hulle is gereeld angstig of buite beheer.
  • Hulle oefen uitermate baie of vas soms.

Kry hier hulp

Klik hier  om Eating Disorders South Africa se webtuiste te besoek en kry vandag hulp.

Sources: Bang Showbiz, Health24.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.