Ben Carter is ’n 14-jarige outistiese seun van Devon in Engeland. Vandat hy twee jaar oud is, drink hy net uit spesifieke blou plastiekbekertjies met twee ore.

Maar sy laaste tweeoorbekertjie, waaruit hy die afgelope twee jaar gedrink het, is gedaan en dit was tyd om die beker te vervang.

Dit was egter ’n geweldige stryd om Ben met ’n ander beker te troos. Marc, sy pa, vertel in ’n Twitter-inskrywing Ben het met die eerste aanraking van die plaasvervangerbeker geweet dit is nie sy spesiale beker nie.

“Hy het dit opgetel en neergeplak. Ben het begin skree. Hy het die bekertjie na my gegooi. “Ek het hom probeer kalmeer, maar hy wou niks weet nie. En omdat ek dit nie van hom weggeneem het nie, het hy my daarmee geslaan voor hy dit gegooi het.” Hy vertel hoe hy en sy vrou, Mandy, vrugteloos probeer het om Ben aan ander bekers gewoond te maak. “Dit het nie gebeur nie. En dit was ’n baie onnosel en slegte idee.”

Die probleem is egter dat dié spesifieke beker 20 jaar gelede deur die maatskappy Tommee Tippee vervaardig is.

Marc het hom tot Twitter gewend om uit te vind of iemand nie dalk iewers nog so ’n bekertjie het vir Ben nie. Meer as 12 000 reaksies later het sy versoek selfs Australië bereik. Dié pa sê mense dink hy oordryf as hy sê Ben drink net uit daardie spesifieke bekertjie, maar sonder sy bekertjie weier Ben om enigiets te drink. Marc se desperate soektog het ook die ore van Tommee Tippee bereik. “Net soos die res van die wêreld, het Ben se storie ons diep geraak. Ons sou enigiets doen wat ons kon om weer so ’n geliefde bekertjie vir Ben te vind,” het ’n woordvoerder van Tommee Tippee gesê.

Die maatskappy van Northumberland hou nie gewoonlik gietvorms van vorige produkte nie. Maar om Ben se onthalwe het die maatskappy al hul fabrieke en pakhuise wêreldwyd versoek om te kyk of daar nie tog wel iewers ’n gietvorm vir die tweeoorbekertjie in ’n stoor is nie. Hulle het selfs intussen ’n nuttige gids gedeel sodat mense weet hoe Ben se bekertjie moet lyk.
So gesê, so gedaan. Tommee Tippee het ’n oorspronklike gietvorm in China opgespoor en is in die proses om 500 bekertjies met twee ore vir Ben te vervaardig.
Die oorstelpte Marc se reaksie was: “Ek is blyer as wat ek sou wees as ek die lotery gewen het!” En Ben? Die video spreek vanself.

Bronne: bbc.com, thesun.co.uk, itv.com