’n Roerende foto van ’n pasgebore baba wat sy sterwende tweelingboetie vir die eerste keer omhels, het harte regoor die wêreld vermurwe.

Die foto van Mason en Hawk Buchmeyer, wat 11 dae ná hul gebore geneem is, het vinnig versprei nadat hul ma dit op Facebook gedeel het.

“Dit was die eerste keer dat hulle mekaar aangeraak het en die oomblik toe Mason vir Hawk voel, het hy uitgereik na sy arm en geglimlag. Ons het gedink dis tyd dat almal wat ons seuntjie ondersteun die foto sien.”

Lees ook: Gelukkige einde vir oupa ná ’n hartseer foto van hom soos ’n veldbrand versprei

’n Aangebore diafragmabreuk – ’n seldsame toestand wat die long affekteer – is by Hawk gediagnoseer.

Die tweeling se ouers, Brandy Guettler en Tommy Buchmeyer, het gereeld nuus oor Hawk se gesondheid op Facebook gedeel. “Ons is op dag vier van Hawk se goeie dae. Dankie vir al julle gebede en boodskappe. Hou aan bid, want dit werk! God is goed!” lui een inskrywing.

Hulle het egter vroeër vandeesweek tragiese nuus ontvang.

“Ons harte is vanoggend seer, want ons liefste seuntjie is huis toe geroep om saam met Jesus te wees. Hy het vreedsaam gegaan en ons weet hy ly nie meer nie. Gee ons asseblief tyd om te rou en te probeer om die helingsproses te begin.”

Lees ook: Die hartverskeurende brief wat Steve Irwin voor sy dood aan sy ouers geskryf het

Die roerende foto van die tweelingboeties wat mekaar vashou het intussen wyd versprei en is al derduisende kere gedeel.