Die Britse akteur Hugh Grant meen affairs is die sleutel tot ’n huwelik wat hou.

hugh grant

Hy gaan nou al langer as vier jaar aan en af met Anna Eberstein uit, by wie hy ’n seun en ’n dogter het. Maar hy het geen planne om af te haak nie, want hy dink nie mense is bedoel om in ’n “40 jaar lange monogame, getroue” verhouding te wees nie.

Hugh (55) voel trouens die huwelik sluit mense af en diegene wat wel besluit om voor die kansel te gaan staan, bly langer getroud as daar ontrouheid is.

“Ek bewonder altyd die Franse en Italianers wat baie toegewyd is aan hul huwelike,” het Hugh, wat ook ’n dogter en ’n seun by sy eksmeisie Tinglan Hong het, op Howard Stern se program SiriusXM gesê.

“Hulle neem dit baie ernstig op, maar dit word verstaan daar kan ander besoekers om vyfuur die middag wees. Jy spog net nooit daaroor nie. Hulle sê nooit iets, maar dis wat huwelike bymekaar hou.”

Dit was maar een van die vele onthullings wat die Love Actually-ster tydens sy onderhoud met die radio-omroeper gemaak het. Hy het ook verklap al het hy nou ’n agent, hy vier jaar lank ’n vals een, James Howe Ealy, gehad het. James was bloot Hugh wat ’n vals e-posadres gebruik het..

“Hy het nie bestaan nie. Dit was ek op ’n ander e-posrekening,” het die akteur laggend gesê. “Ek het myself ’n absolute fortuin bespaar.”

Maar die illusie het nie lank gehou nie, want dit was vir Hugh moeilik om agter sy alter ego te skuil toe mense vra hulle wil James van aangesig tot aangesig ontmoet. Boonop het hy soms e-posse met “Hugh” afgesluit wanneer hy dronk was en sodoende sy “agent” se ware identiteit verklap.

© Cover Media