kat kamer

Inwoners het die toestand van die diere onder die DBV se aandag gebring.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die DBV, het aan Huisgenoot gesê die huiseienaars het aanvanklik katte begin aanhou in ’n poging om hulle te “red”.

“Mense het katte na die 48-jarige vrou se huis aangedra sonder dat hulle waarskynlik bewus was van wat in die huis aangaan." Die vrou se lewensmaat was op ’n kursus in Pretoria en sy self ook bedags gewerk. Kort voor lank het die situasie buite beheer geraak.

Reinet het in 'n verklaring wat sy uitgereik het vertel van die katte en katmis wat die botoon gevier het by die huis in Wilgehof.

“Die katte se sandbokse was oorvol. Daarom het die diere hul besigheid die hele huis vol gedoen.”

katmis

Een vertrek was vol babakatjies en die stank was ondraaglik. Reinet het voorts gesê dat die katte ondersoek is. Baie van hulle het ernstige aansteeklike siektes onder lede gehad.

kat1

"Die siek en gesonde katte was nie van mekaar geskei nie. Dit was baie onverantwoordelik." Die eienaar kon ook nie die katte se mediese rekords aan die DBV verskaf nie.

Sy het ook aangedui dat die katte nie teen hondsdolheid ingeënt is nie.

"Dit was ook ongelooflik onverantwoordelik aangesien hondsdolheid dodelik vir mens sowel as dier is.”

In ’n ander vertrek het die DBV ’n gruvonds gemaak: ’n dooie kat tussen die ander katte. Die eienaar was onbewus van die dooie kat. Volgens Reinet was daar wilde katte tussen die mak katte en daar was duidelik konflik tussen die twee groepe.

katte main

"Van dié wat nie met die ander oor die weg kom nie, is in ’n hok buite die huis aangehou. Ook aan die sandboks daar kon ’n mens sien dit was vir ’n geruimte tyd nie skoongemaak nie.

Reinet het die omstandighede waaronder die katte gedwing was om te woon as onaanvaarbaar bestempel: "Vuil, onhigiënies, en absoluut nie met die katte se beste belange op die hart nie.”

kat gemmer

Die DBV het die 93 katte na die Bloemfonteinse DBV geskuif. ’n Klag van dieremishandeling is teen die vrou gelê aangesien sy op daardie oomblik in besit en in beheer van die diere was.