Kaapstad is die stad met die mees verstopte paaie in Suid-Afrika, volgens die TomTom Suid-Afrikaanse Verkeersindeks.

Die indeks meet die verkeer in ses Suid-Afrikaanse stede tydens 2013. Die Moederstad se opeenhoping was 27 persent, vergeleke met 25 persent in 2012.

Johannesburg was in die tweede plek met 25 persent, vergeleke met 24 persent die vorige jaar.

Dié persentasie verwys na hoeveel langer motoriste in druk verkeer moes reis vergeleke met wanneer die verkeer vrylik vloei.

Oos-Londen was derde met 22 persent teenoor 20 persent die vorige jaar.

Pretoria (ook 22 persent), Durban (18 persent) en Bloemfontein (12 persent) rond die ranglys af. Al ses stede se gemiddelde opeenhoping is 21 persent.

Die opeenhoping in die drie stede met die ligste verkeer het ook toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Die hoogste opeenhoping soggens was 71 persent in Kaapstad, gevolg deur Johannesburg (60 persent), Pretoria (50 persent), Oos-Londen (47 persent), Durban (42 persent) en Bloemfontein (24 persent).

Kaapstad was ook saans in die eerste plek met 58 persent, gevolg deur Johannesburg (55 persent), Oos-Londen (47 persent), Pretoria (43 persent), Durban (40 persent) en Bloemfontein (22 persent).

Die hoogste opeenhoping word soggens en saans tydens die besige uur gemeet.

In die kategorie opeenhoping op hoofweë was Kaapstad eerste met 20 persent en Johannesburg tweede met 15 persent.

Hulle word gevolg deur Oos-Londen (11 persent), Durban (11 persent), Pretoria (9 persent) en Bloemfontein (7 persent).

Nie-hoofweë was meer verstop as hoofweë, met Johannesburg sowel as Kaapstad op 30 persent, Pretoria 27 persent, Durban 26 persent, Oos-Londen 25 persent en Bloemfontein 16 persent.

Die besigste dae vir spitsverkeer soggens en saans asook die vertraging per uur wat in elke stad in die spitstyd ervaar is, is as volg:

  1. Kaapstad: Maandag, Donderdag, 38 minute;
  2. Johannesburg: Maandag, 34 minute;
  3. Oos-Londen: Maandag, Dinsdag, 28 minute;
  4. Pretoria: Maandag, Vrydag, 27 minute;
  5. Durban: Maandag, Vrydag, 24 minute; en
  6. Bloemfontein: Dinsdag, 13 minute.

Die drukste verkeersdag in elke stad verlede jaar en die saamgestelde vertraging per jaar bereken volgens ’n pendelreis van 30 minute, was:

  1. Kaapstad: Vrydag, 8 Maart en 89 uur;
  2. Johannesburg: Vrydag, 29 November, en 83 uur;
  3. Oos-Londen: Vrydag, 31 Mei, en 73 uur;
  4. Pretoria: Maandag, 11 Februarie, en 71 uur;
  5. Durban: Dinsdag, 26 Maart, en 65 uur; en
  6. Bloemfontein: Vrydag, 18 Januarie en 40 uur.

Die vyf mees verstopte stede ter wêreld is Moskou met 74 persent, gevolg deur Istanbul (62 persent), Rio de Janeiro (55 persent), Mexikostad (54 persent) en São Paulo (46 persent).