[caption id="attachment_78528" align="aligncenter" width="600"]Die verskynsel van Die Vlieënde Hollander is deur talle skeepsvaarders opgemerk. Die verskynsel van Die Vlieënde Hollander is deur talle skeepsvaarders opgemerk.[/caption]

Dié kadet het later bekendgestaan as koning George V, die eerste monarg van die Huis van Windsor, waartoe die huidige Britse monarg ook behoort.

Op 11 Julie 1881 het hy ’n inskrywing in die skeepsjoernaal gemaak van hoe die RMS Bacchante dié nag tydens stormweer die veiligheid van Tafelbaai se hawe gaan opsoek het.

Hy vertel hoe hy en sy medematrose op pad na die hawe beangs toegekyk het hoe ’n seilskip met ’n helle vaart op hulle afpyl. Die boot het ’n paar meter bo die onstuimige golwe by hulle verbygeskiet.

Op die dek, agter die stuur, het ’n swart figuur gestaan wat met swaaiende arms die boot deur die storm probeer stuur het. Die verskynsel het spookagtig in die niet verdwyn.

Dié inskrywing is net een van talle wat destyds in skeepsjoernale opgeteken is deur vreesbevange skeepsvaarders wat dié spookskip moes gade slaan.

Dit was in ’n stormagtige nag in die 17de eeu naby Tafelbaai dat een van Suid-Afrika se mees legendariese spookverhale ontstaan het.

Die ongenaakbare Nederlandse skeepskaptein Henderik van der Decken wou met alle geweld met sy seilskip om Kaappunt vaar, al het sy bemanning hom gesoebat dat die weersomstandighede dié nag te gevaarlik was.

Die wind het aan die seile geruk en die branders het oor die dek gebreek. Die lugruim was onheilspellend donker.

Die klein houtskip dopper byna hulpeloos op en af en kantel heen en weer in die storm wat ál hewiger raak. Die bemanning pleit weer die kaptein moet hulle laat omdraai.

Met ’n drankbottel in die hand beveel Henderik hulle swetsend om nog ’n seil te hys terwyl hy die stuur by die bootsman oorneem.

Die bootsman maak beswaar, maar met een veeg boender Henderik hom oorboord.

Henderik vrees niks: nie dié storm nie, en ook nie die duiwel of God nie. Die skip beur krakerig voort.

Die volgende hewige brander tref die skip en dit hel gevaarlik oor na een kant terwyl skuim oor die dek spat.

Die kaptein vat nog ’n sluk en bulder vreesloos na Bo: “Ek sweer ek sál om dié vervloekte Kaappunt seil, al duur dit tot die oordeelsdag!”

Oomblikke later verlig die hemelruim spookagtig, en ’n harde bliksemstraal tref die skip. Dit breek in twee en sak stadig weg in die donker waters. Net enkele matrose kon die strand met ’n reddingsbootjie bereik om die verhaal oor te vertel.

Blykbaar is kaptein Van der Decken aan sy eed gehou, want dekades daarna is die spookagtige verskynsel van Die Vlieënde Hollander gereeld tydens stormweer aan die Kaapse kus opgemerk waar hy nog “tot die oordeelsdag” probeer om om Kaappunt te vaar.

  • Inligting verskaf deur die Pretoria Spookbus Toerproduksie. Vir nog besonderhede, besoek www.spookbus.co.za

Wen

Drie lesers van die Pretoria-omgewing kan ’n dubbelkaartjie ter waarde van R450,wen na enige van die komende aanbiedings van die Pretoria Spookbus Toerproduksie. Stuur jou kontakbesonderhede na spookbuskompetisie@gmail.com om vir die trekking in aanmerking te kom.