[caption id="attachment_50776" align="aligncenter" width="600"]Die Schubart Park-woonstelblok soos dit vandag lyk. Die Schubart Park-woonstelblok soos dit vandag lyk.[/caption]

Die Schubart Park-woonstelkompleks in die Pretoriase middestad is vandag erg verwaarloos en gevandaliseer, maar jare gelede het dit daar gebruis van lewe en opwinding toe dit deur hoofsaaklik jong mense bewoon is wat in die middestad gewerk het. Dis in dié einste kompleks waar een van Pretoria se bekendste spookverhale afgespeel het . . .

Rudolf Steyn, ’n motorwerktuigkundige, het in Blok D ’n woonstel met sy suster gedeel.

Een aand in 1994, sit Rudolf in die bad. Hy is geïrriteerd, want bo hom is dit die badkamerlig wat al weer onverklaarbaar aan- en afgaan. Hy dink aan sy suster wat al vantevore bekommerd vir hom vertel het van die vreemde figuur wat sy soms in hul kombuis sien staan.

Alles jou verbeelding, het hy haar stories afgemaak. Maar vir die badkamerlig kon hy nie ’n verduideliking kry nie.

Rudolf bring die skeermes na sy gesig, maar toe gaan die lig weer onverklaarbaar af. Hy vererg hom; toe nooi hy kliphard: “Spokie spokie aan die rand, wys my jou gesiggie in die land.”

Sy woorde was skaars koud, toe voel hy ’n harde klap teen sy skouer, gevolg deur ’n brandende gevoel.

Die volgende dag was daar ’n bloedrooi, opgeswelde merk op sy rug op die plek waar hy die klap gevoel het, in die vorm van ’n groot volwasse man se hand.

Inwoners van die kompleks het die volgende dag aan ’n verslaggewer van die Pretoria News vertel dat ’n vorige huurder van die woonstel, in die einste badkamer, aan ’n hartaanval gesterf het. ’n Man wat maar kort van draad was en vinnig die vuiste ingelê het wanneer hy gekonfronteer word.

Sy gees het blykbaar dieselfde gewoonte gehad . . .

  • Dis een van die sowat 30 vertellings van spookverhale en ander legendes waarna geluister kan word tydens die Pretoria-spookbus-produksie.
  • Twee gelukkige lesers het nou die kans om elkeen ’n dubbelkaartjie, ter waarde van R450, te wen na Saterdag 7 September se toer in Pretoria. Om hiervoor in aanmerking te kom stuur ’n epos na spookbus@spookbus.co.za met die woorde HG-kompetisie in die onderwerpspasie, en vertel ons watter spookstorie uit jou kinderdae jy nog die beste onthou.

Besoek ook www.spookbus.co.za