Pak solank jou gunsteling-teddiebeer se tas, want jou speelgoed kan nou – sonder jou – met vakansie gaan.

’n Japannese reisagentskap nooi speelgoedliefhebbers wêreldwyd om hul gunsteling-teddiebeer of ander speelgoeddiere Japan toe te pos sodat hulle daar saam met ’n toergroep die wêreld kan sien, berig cnn.com.

Afhangend van hoe lank die toer is, sal Sonoe Azuma (38) na jou speelgoed omsien, foto’s van hulle in die wêreld se bekendste stede neem en teen net R450 die aandenkings saam met jou speelding vir jou huis toe pos.

Maar wees gewaarsku: As jou teddiebeer “oorgewig” is en meer as 250 g weeg, moet hy met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Sonoe, wat Unagi Travel drie jaar gelede begin het, het speelgoed al na Amerika, Europa en Asië vergesel en sê van haar gereelde klante mense is in rolstoele wat genot put uit hul speelgoed wat die wêreld oor rondrits.

As jy jou speelding dadelik ’n breuk wil gee, moet jy gou spring: Aanstaande maand pak Sonoe Tokio aan. Vir nog inligting (en die oulikste foto’s), besoek unagi-travel.net.

– Christiaan Boonzaier