DIE GOEIE MEISIES

KATY PERRY

Die 28-jarige sangeres is die ene pretvideo’s en parmantige lirieke, maar was tot dusver nie te uitlokkend nie. En haar skrapse kleertjies lyk heel stemmig as jy dit met Miley Cyrus en Riri s’n vergelyk.

SELENA GOMEZ

Anders as sommige voormalige Disney-sterre, lyk dit nie Selena (21) haastig is om te bewys sy is nou “groot” nie. Dis nogal koel!

TAYLOR SWIFT

As jy met haar mors, gaan sy ’n liedjie oor jou skryf en jou by prysaande iets sarkasties toesnou (soos vir arme Harry Styles by vanjaar se MTV Video Music Awards), maar Taylor (23) is die soort pel van wie jou ouers sal hou. En ouens, selfs jou ouma sal mal wees oor haar. Jy sal ook nie sommer foto’s van haar bates op Twitter sien nie.

STOUTE MEISIES

RIHANNA

Riri (25) het haar debuut op 15 as die vars skoonheid van Barbados gemaak, maar het sedertdien ’n prikkelpop geword wat berug is weens haar gewaagde selfies en video’s en ’n liefde vir daardie groen blaartjies.

MILEY CYRUS

Dié 20-jarige sangeres het met haar ge-twerk en fladderende tong by die MTV Video Music Awards en haar kaal lyf in die Wrecking Ball-video haar stroopsoet Hannah Montana-beeld finaal begrawe.

TAYLOR MOMSEN

Sy was die oulike Jenny Humphrey in Gossip Girl, maar op 20 is sy nou die skraps geklede voorsanger van die groep The Pretty Reckless. Sy sing ook graag oor dwelms.

TEN GOEDE VERANDER

DEMI LOVATO

Nadat sy ’n agtergronddanser geslaan het, het die 21-jarige voormalige Disney-ster erken sy het hulp nodig. In 2010 het sy ’n paar maande in ’n rehabilitasiesentrum deurgebring weens ’n eetsteuring en omdat sy haarself sny. Sy het daar uitgestap as ’n rolmodel: Sy het ’n trefferalbum uitgereik en was selfs ’n beoordelaar op die Amerikaanse The X Factor.

BRITNEY SPEARS

Sy het oornag die prinses van pop geword toe sy in 1998 op die toneel verskyn, maar haar sterretjie het verdof ná twee mislukte huwelike en haar hospitaalbehandeling vir geestesprobleme in 2008. Sy het egter gewys wat in haar steek en haar terugkeer gemaak met ’n platinum album. Toe sy ’n beoordelaar op die Amerikaanse The X Factor was, het sy ’n salaris van R150 miljoen verdien.

CHRISTINA AGUILERA

Die 32-jarige sangeres se dae van skrapse klere, vreemde ooggrimering en wulpse liedjies is verby. Deesdae sal jy haar eerder by ’n speelparkie met haar seun, Max, gewaar as in ’n nagklub. Maar sy kan nog die koppe laat draai as dit moet . . .

BRONNE: wonderwall.msn.com, theinsider.etonline.com, usmagazine.com, zimbio.com