KLIK HIER vir foto's van gister se Kaapstad-oudisies

Ná die wegholsukses van die eerste seisoen van die kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor, wat in Julie vanjaar ten einde geloop het, is oudisies vir die tweede seisoen volstoom aan die gang, en die belangstelling is groot om ’n glanskok in die trefferreeks se opvolg te wees.

Maar, sê die vervaardiger, Paul Venter, kykers moenie verwag die tweede seisoen gaan enigsins soos die eerste wees nie.

“Al wat dieselfde gaan wees, is dat dit ook op Prins Albert verfilm sal word,” sê hy. “Die formaat gaan ook dieselfde wees – kokke gaan weer in spanne meeding – maar nuwe kinkels gaan dié reeks vernuwe en kykers vasgenael hou!”

Die oudisies het amptelik gister (Maandag, 16 September) in Kaapstad begin en skuif later vandeesweek Johannesburg toe. Van die “duisende” aansoeke wat ontvang is, is net ’n paar gekies om die oudisieronde onder die wakende oog van een van die reeks se beoordelaars, Hetta van Deventer Terblanche, in die Kaap aan te pak.

“Dis wonderlik om terug wees,” sê Hetta, terwyl hoopvolles agter haar aan die kook is. “Dit voel asof ek terug is by my familie.”

As deel van die vernuwings wil Hetta deelnemers in die tweede seisoen meer touwys maak.

“Hoewel ek vir die deelnemers terugvoer gegee het in die eerste seisoen, wil ek in die tweede meer tyd daaraan afstaan om noukeurige terugvoer te gee,” sê sy. “Ek kan nie wag nie!”

Die tweede seisoen word in Oktober vanjaar opgeneem en in April 2014 uitgesaai.

Die wenners van Kokkedoor 2014 wen onder meer prysgeld, 'n GWM C20R en 'n boekkontrak. - Christiaan Boonzaier Besoek ook: Tannie Poppie se goeie nuus Kokkedoor - 'n resep wat werk Kokkedoor: 'n Dankie van die wenners Kokkedoor-fotogalery - finale episode en wenners