Sokkeraanhangers kon skaars hul oë glo toe die Uruguaanse sokkerspeler Luis Suarez verlede week tydens ’n wedstryd van die Wêreldbekersokkertoernooi sy tande in ’n Italiaanse opponent se skouer inslaan.

Hier is nog van die skurke van die sportwêreld.

Luis Suárez (sokker)

Italië se Giorgio Chiellini het seker nie geweet wat gebeur toe Luis Suárez hom tydens ’n wedstryd op die skouer byt nie.

Dis nie die eerste keer dat Luis ’n opponent tydens ’n wedstryd byt nie – dit is al die derde keer. Hy het sowat ’n jaar gelede in ’n wedstryd in die Konfederasiebekertoernooi Giorgio ook probeer byt.

Fifa, sokker se internasionale beheerliggaam, het Luis vier maande lank van die sokkerveld geskors; hy mag nie eers ’n sokkerstadion binnegaan nie.

John McEnroe (tennis)

Hy is die onbetwiste stoutseun van tennis. John McEnroe was in die 80’s ewe bekend vir sy vermoë as sy gereelde woedeuitbarstings op die baan, sy rusies met skeidsregters en hoe hy die skares langs die baan opgesweep het.

Johan le Roux (rugby)

Johan is die man wat daarvoor berug is dat hy in 1994 die All Black-kaptein Sean Fitzpatrick se oor gebyt het.

Die Springbok is ná dié insident 17 maande lank geskors, en hy het nooit weer ’n internasionale wedstryd gespeel nie.

Diego Maradona (sokker)

Diego Maradona is seker een van die wêreld se grootste sokkerhelde, maar sy leefstyl van die veld af is minder rooskleurig.

Die sogenaamde “Hand of God”-doel tydens die kwarteindstryd tussen Argentinië en Engeland in die 1986- Wêreldbekersokkertoernooi het hom ’n plek in die geskiedenisboeke besorg.

In 1991 het hy kokaïen gebruik en drie jaar later moes hy tydens die wêreldbeker sy tasse pak nadat hy positief getoets het vir die gebruik van efedrien, ’n middel wat gebruik word om asma te behandel. In dieselfde jaar het jy op joernaliste geskiet.

Tonya Harding (ysskaats)

Tonya was in 1991 die eerste Amerikaanse vrou wat die Triple Axel-kompetisie kon wen, maar sy is drie jaar later van haar titel gestroop nadat dit aan die lig gekom het haar eksman het een van haar grootste teenstanders, Nancy Kerrigan, se bene kort voor dié kompetisie met ’n ysterpyp gebreek.

Tonya het volgehou dat sy onbewus was van die aanval, maar is lewenslank uit die sport geskors.

Mike Tyson (boks)

Mike Tyson is sekerlik een van die grootste skurke wat die sportwêreld nog gesien het.

Nes Luis het Mike gereeld na sy opponente gehap. Een van die sport se skandelikste oomblikke was in Junie 1997 toe Mike in die derde ronde van sy wedstryd teen Evander Holyfield ’n stuk van sy teenstander se oor afbyt.

Bronne: TVNZ, The Guardian, Daily Mail