Van trouringe en kitaarname tot klein akkedissies – dis die soort lyfkuns waarmee van ons land se gewildste sangers spog.

“Nee, dis nie seer nie,” sê die een. “Nooit weer nie,” kla ’n ander. En jy sal verbaas wees wié almal met ’n skildery op hul lyf spog . . .

BRANDON:

Hy het sy lyf nege jaar gelede die eerste keer met ink versier, sê BrandonOctober (33). Vandag spog hy al met ’n hele rits tatoes, die meeste daarvan in die Chinese Kanji-skrif.

“Op my linker-boarm is een wat geluk en goeie dinge voorspel, en my linker-binnearm se tatoe beteken ‘leef vir die oomblik’, ’n herinnering dat ek moet fokus op die hier en nou.’’

In sy regter-binnearm staan die woord “aarde”, ook in Kanji-skrif.

“Dis hoe ek weet ek moet my voete vierkant op die aarde hou. Dan is daar my ouma se naam op my regterheup; sy was vir my soos ’n ma. Sy het nooit hard gepraat nie, maar presies geweet hoe om my op my plek te sit.”

Op sy regterarm is ’n koi-vis, sy mees onlangse tatoe. Dit simboliseer verandering. Hy is nie kleinserig nie, “maar die binnearmtatoes was nogal seer. Dis sagte vleis en baie meer sensitief, maar dit was die pyn werd,” vertel hy.

“Gelukkig weet my vrou, Kathi, ek is ’n vrye gees. Sy terg dikwels en vra of ek nou dink ek is David Beckham.” Hy dink nie so nie, maar hy meen tog sy tatoeëermerke is “über-sexy”.

“Dit gaan oor die positiewe dinge wat dit simboliseer. Ek het maande lank daaroor getob en wou niks op my lyf laat ink wat sleg gaan lyk en ’n simpel boodskap sal uitdra as ek 60 is nie. Omdat ek dit vir myself gedoen het, wou ek dit op plekke hê wat ek kon sien.”

Klaar is hy vir seker nie. “Nee, daar kom nog. Ek het reeds die tatoeëermerke begin ontwerp wat my seuns, Adam (4) en Kaid (2), se voorletters insluit. Ek het nog nie besluit waar dit gaan kom nie, maar dalk onder op my nek. En nou die dag toe my ma, Danielle, my ouma se naam op my lyf sien, wou sy weet wanneer ek dan een met háár naam kry!”

Lees meer oor ander bekendes se tatoeëermerke in die Winter-uitgawe van Huisgenoot-Tempo.