Vir talle voel die eerste dag van die Desember-skoolvakansie soos ’n welkome reëntjie op die dorre aarde. Maar wees gewaarsku, veral as jy jou vandag in die Vrystaat en die Noord-Kaap bevind. eNCA se weerdiens waarsku storms maak reeds hul buiging in daardie streke.

Verspreide reënbuie sal grootliks oor die noordelike en oostelike dele van die land voorkom.

Padveiligheidswenke wanneer dit reën

1. Verminder spoed. Moenie jou motor se padhouvermoë oorskat nie. Selfs ’n geringe lagie nattigheid op die pad het ’n impak op jou bande se greep op die geteerde oppervlak van ’n pad. Ook die geverfde verkeersvloei-aanwysings (soos bane, rigtingwysers en sperstrepe) kan glibberig raak onder nat omstandighede.

2. Handhaaf minstens drie keer jou gewone volgafstand sodat jy genoeg tyd het vir rem trap. Wanneer jy rem trap, doen dit geleidelik en laat los die rem as die wiele begin tol. Dan, as jou voertuig nie ABS-remme het nie, pomp die rem liggies of tik dit sodat die voertuig stadiger beweeg. Met ABS-remme moet jy sagte maar ferm en konstante druk toepas; jy sal ’n ligte rukbeweging ervaar, wat heeltemal normaal is.

3. Alle motoriste moet hul padveiligheid verseker deur die druk in hul voertuig se bande gereeld na te gaan en te verseker hul bande het minstens die voorgeskrewe loopvlak van 1 mm. Vloeiende water bou druk op. Hoe vinniger dit vloei, hoe hoër is die druk.

4. Water wat teen 3,2 km per uur val en net 0,4 m diep is, is voldoende om ’n motor van ’n brug te dwing.

5. Maak seker jy het so ver moontlik goeie sig: Rommel kan deur sterk reën losgewikkel word en in jou pad beland.

6. Moenie vir die reën wag voor jy jou ruitveërs vervang nie. Goeie ruitveërs in ’n goeie toestand is altyd ’n goeie vriend.

7. As jy dalk in ’n fratsvloed beland, word aanbeveel jy rig jou voete in die rigting van die stroom se vloei.

8. Ry liewer met jou hoofligte aan, veral wanneer ligtoestande verswak.

9. Moet nooit kanse waag by laagwaterbrûe nie; water wat bedrieglik vinnig vloei, kan jou motor maklik meesleur.

10. Verminder spoed voor jy deur stilstaande water op die pad ry; indien nie, kan dit jou motor onverwags laat swenk en jou beheer laat verloor.

11. Wees waaksamer wat volgafstand en veiligheidsgordels betref.

12. Neem ook die regte klere, komberse, versnaperings en drinkgoed saam as julle na gebiede reis waar julle gure weer kan aantref en maak seker jul selfone is ten volle gelaai, maan die AA.

13. Wees versigtig vir die verblindende strale van die laer son in spitsverkeer. Dra ’n goeie sonbril en verminder dadelik spoed as jy sukkel om te sien.

Bronne: aa.co.za, virseker.co.za, arrivealive.co.za