Sterftes weens vuurwapens kos die land na raming R26 biljoen per jaar.

[caption id="attachment_158693" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay, Twitter via @PresidencyZA Foto: Pixabay, Twitter via @PresidencyZA[/caption]

En dis een van die grootste redes dat Suid-Afrikaners ’n statistiek word: 33 uit elke 100 000 van die bevolking per jaar, vergeleke met die wêreldgemiddelde van 6,2 per 100 000.

Vuurwapenverwante sterftes het beduidend afgeneem sedert die regering wapenbeheer in 2000 ingestel het: van 34 per dag toe tot 16 nou, maar dit bly buitengewoon hoog.

“Van fisieke beserings tot onsigbare sielkundige letsels en permanente gestremdheid, dit verander mense se lewe onherroeplik,” sê Adele Kirsten, direkteur van Gun Free South Africa (GFSA). Daarom meen hulle die president se reaksie op die huidige voorkoms van vuurwapengeweld is heeltemal onvoldoende.

“2016 was deurdrenk van vuurwapengeweld,” sê Adele. “Ons verwelkom dit dat die president erken het dat hierdie soort geweld ’n spesiale taakmag vereis. Maar meer moet gesê word. Meer moet gedoen word,” voeg sy by.

Ses Kaapse polisiebeamptes is byvoorbeeld binne ’n week geskiet.

En as deel van ’n vier bladsy lange voorlegging van GFSA aan die parlement enkele dae voor die staatsrede, pleit Cindy Woodward (20), ma van die sesjarige Zahnia, wat in die feestyd tydens bendegeweld in Ocean View doodgeskiet is: “Pres. Jacob Zuma, jy kan help om nog ma’s se trane te keer; asseblief gryp in om nog vuurwapengeweld in Suid-Afrika te keer.”

Het Cindy se pleidooi op dooie ore geval? wil Adele weet. “Ons steun die bestaande wapenwetgewing en voel dis goed. Die probleem is hoe dit toegepas word,” sê sy.

In navorsing die afgelope 20 jaar is bevind as minder vuurwapens – veral handwapens – in omloop is, sal minder mense doodgeskiet word. Handwapens word in 85 tot 90 persent van misdade gebruik, toon syfers van die polisie.

Regtens mag ’n volwasse Suid-Afrikaner een handwapen hê vir selfverdediging. “Die maatstawwe moet baie streng wees by die uitreiking van lisensies,” sê Adele.

Ook moet eienaars wat hul handwapen verloor of nie voldoende voorsorg getref het dat dit nie gesteel word nie, swaarder gestraf word.

“Onwettige vuurwapens – verloor of gesteel – selfs in die geval van polisiebeamptes – is ’n groot probleem, meen Adele. “Ons kort nog inligting van die minister daaroor.”