HUL eersteling is ’n meisie, en die vreugde was groot toe die tweede ’n seun is. Of so het hulle gedink . . .

“Ek wou bitter graag ’n seun hê. Toe die eerste sonar wys dis weer ’n meisie, was ek baie teleurgesteld,” vertel Madeleshia Hiscock (29). “Dis nie dat ek ondankbaar is nie, maar ná ons dogter, Zadeleshia (3), wou ek regtig ’n seun hê.”

Maar toe wys ’n latere sonar dis tog ’n seun, en die volgende een bevestig dit. Madeleshia was uit haar vel. En al haar en haar man, Kenny (30), se drome is bewaarheid toe Kenny Hiscock jr. op 15 Februarie met behulp van ’n keisersnee die wêreld ingebring is. Hier was hy, pure bulletjie, nes hulle wou gehad het.

Maar kort ná sy geboorte het Kenny vinnig gewig begin verloor. “Hy wou nie drink nie. Ek was buite myself van bekommernis.”

Terug by die hospitaal het hulle die skokkende nuus gekry: Kenny is nie ’n seun nie, maar ’n meisie.

Hy het nie regtig ’n penis nie, maar ’n vergrote klitoris. En hy het nie testikels nie, maar skaamlippe wat saamgegroei het.

Die skok was yslik – byna te veel om in te neem. En hulle kon dit eenvoudig nie onmiddellik aanvaar nie.

“Ons was steeds nie seker nie,” vertel Madeleshia by hul huis in Vereeniging.

“Die dokter het gesê sy – of dalk was dit toe nog hy – het te veel manlike hormone. Ons het pille gekry wat ons vir Kenny moes gee, en ons is huis toe sonder dat ons mooi verstaan het wat aangaan.”

Die dokter het bloedtoetse gedoen en gesê hulle moet eers weer in Mei terugkom vir die uitslae. Dalk was alles dan nog nie so finaal nie?

“Ek het bly glo ons het ’n seun,’’ vertel Madeleshia. “Maar eendag toe ek so met Kenny sit, het ek vir my man gesê ek dink hy begin meer soos ’n meisie lyk.” Sy bly ’n oomblik stil. “Kenny het gesê ek is laf; ons kan mos sien hy is ’n seun . . . Hy praat nie eintlik veel oor die hele ding nie.”

Hulle het die baba as ’n seun bly grootmaak, net om in Mei by die dokter te hoor klein Kenny is toe wel ’n meisie.

“Ek het so gehuil. Ek weet dis nie reg nie, maar ek het nie meer geweet of ek die kind wil hê nie. Dit was so moeilik.

Maar toe sy vir my een van haar mooi glimlaggies gee, kon ek nie meer kwaad wees nie. Sy is my kind. Sy is nou my dogter. Ons moet nou net besluit hoe ons dit gaan hanteer.” Hulle het hul baba McKenzi begin noem en ’n nuwe geboortesertifikaat aangevra.

Maar steeds is daar tergende vrae: Het McKenzi ’n baarmoeder en eierstokke?

“Toe die dokter vir ons sê dis ’n meisie, het ek gevra of sy ’n baarmoeder en eierstokke het, en of sy eendag gaan menstrueer. Of sy borste  gaan hê. Hy het ja gesê, maar kon nie vir ons ’n sonar wys wat dit bevestig nie.”

En omdat hulle nie aan ’n mediese fonds behoort nie, kon Madeleshia Mckenzi nog nie vir ’n sonar neem nie.

Vir haar is die moeilikste dat hulle moet wag tot Mckenzi 16 jaar oud is voor hulle haar vergrote klitoris kan laat verwyder. Dit doen hulle op aanbeveling van die dokter, sodat hul kind self oor haar toekoms kan besluit.

“Maar hoe moet ons haar grootmaak tot dan? Hoe verduidelik ons vir haar wanneer sy saam met haar sussie bad waarom sy anders lyk?”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 19 Augustus 2010.