Ons hou al maande lank asem op om te sien of die Olimpiese swemheld Ryk Neethling (39) en die beeldskone Sahar Biniaz (30) weer hul pad na mekaar gaan vind.

Die paartjie se vriende het in September verlede jaar beweer hul paadjies het geskei. Dit was toe nog onbekend hoekom hulle glo hul verlowing van ’n jaar verbreek het.

Ryk het vroeër vandeesweek in Monaco geland vir die gesogte Laureus-sportprysaand. En raai wie was dieselfde tyd in Monaco? Sahar! Dit laat ons wonder . . . Brand die liefdesvlam weer tussen dié twee?

 

Net ’n dag voor Valentynsdag het Sahar ’n foto op Instagram gedeel met die onderskrif: “Bonjour, Monaco.”

Op dieselfde dag het Ryk op Twitter laat val hy is ook in die prinsdom aan die Franse Riviera. Hy het toe in ’n twiet vertel hoe hy in net vyf minute ná sy aankoms reeds in talle sportsterre vasgeloop het.

Hieronder was die voormalige Amerikaanse naelloper Michael Johnson, die gholflegende Gary Player en die voormalige All Blacks-kaptein Sean Fitzpatrick. “Die Laureus-sportprysaand is enige sportaanhanger se droom,” het hy ewe getwiet.

’n Dag later, op Valentynsdag, het Sahar ’n foto gedeel met die silhoeët van ’n man, vermoedelik Ryk. Hierby skryf sy: “My lig aan die einde van die donkerte, beste Valentyn #hemel #rn #liefde #eerstegebrokehart.”

Op dieselfde dag het Ryk by die Laureus-geleentheid omgegaan met internasionale en ander plaaslike sportsterre, soos die Springbok-held Bryan Habana en die Olimpiese atleet Wayde van Niekerk.

Van wat ons van Instagram aflei, het Ryk aan dieselfde tafel gesit as prinses Charlene van Monaco, wie se troue hy in 2011 bygewoon het. Die seremoniemeester van die aand was die Notting Hill-akteur Hugh Grant.

Laureus Sports Awards are underway. Hugh Grant the host. @laureussport #laureus17

A post shared by Ryk Neethling (@rykneethling) on

Nie Ryk of Sahar het op Instagram foto’s van hulle saam by die prysaand of in Monaco gedeel nie.

Maar ons kan nie help om te wonder of dié voormalige skoonheidskoningin sy metgesel vir die glansgeleentheid was nie. Ryk het boonop op Instagram laat blyk dit was een van die beste aande van sy lewe. Hou dié ruimte dop!